Lees Lukas 8 : 4 – 15
“Daar was ook ’n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en ’n honderdvoudige oes gelewer” (8).
Op een van die Clyderivier se vakansiebote staan ’n man traktaatjies en uitgee, vertel A Message of God. ’n Man van Glasgow neem ‘n traktaatjie en merk op: “Ek is nie gekant teen hierdie soort ding wat jy nou doen nie, maar ek is bevrees dit rig nie veel goeds uit nie. In my jonger dae het ek dit ook gedoen, maar ek het nooit enige vrug op my pogings gesien nie.” Die jongman laat sak sy hande effens moedeloos, want die man wat met hom praat, lyk na ’n ordentlike man wat moontlik self ’n Christen is. Hy trek sy skouers effens op, glimlag verleë, en sê: “Ek het deur die lees van ’n traktaatjie tot bekering gekom.” Die man van Glasgow stel dadelik belang. Hy bly staan en vra die jongman verder uit. Die jongman vertel: Toe hy 12 jaar oud was, stap hy een wintersaand by ’n sendingsaal verby. Buite staan ’n man om mense wat verby stap, in te nooi om die diens by te woon en vir elkeen ‘n traktaatjie te gee. Die seun het ’n traktaatjie geneem, maar ook ingegaan en na die preek geluister. Die preek het hom ontstel en bekommerd oor sy siel gemaak. Toe hy tuiskom het hy die traktaatjie gelees. Dit was ’n duidelike stap vir stap beskrywing van hoe ’n mens met jou sondebesef by Christus as Verlosser kan uitkom. Daar in sy kamer het hy by sy bed gekniel en in Christus as Verlosser vertrou. Hy het die Here gevind en leef nou vir Hom en daarom staan hy in sy vrye tyd en deel traktaatjies uit. “Waar het dit alles gebeur?” vra die Glasgowman. Die jongman noem die straat en sendingsaal se naam en ook min of meer wanneer dit alles gebeur het. Die man raak bewoë, vee oor sy oë en gryp die jongman se hand. “Toe ek ’n jong Christen was, was dit my werk om by daardie saal se deur te staan, mense in te nooi en traktaatjies uit te deel. Weet jy, ek dink ek onthou jou. Ek het met jou gepraat en jy het die traktaatjie geneem, bietjie geweifel en toe in die saal ingegaan. Maar ek het moed opgegee. En nou, na amper twintig jaar, wys die Here vir my dit was nie tevergeefs nie! As God my lewe spaar, gaan ek my ontrouheid bely en weer vir hom begin werk.” Die skrywer van die storie sluit af: “How many more golden sheaves might have appeared to that Christian worker’s account in the day of Christ, had he continued in the service that the Lord gave him to do?”
“Here, vandag help ek om ander vir U te wen.”