Sedertdien

Lees Lukas 13:6-9

“Kyk, dit is nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit!” (Lukas 13:7)

’n Jong mediese student, Wilfred Grenfell, het in Londen onder die prediking van die bekende evangelis, D. L. Moody, tot bekering gekom. Hy het sy hart met groot oorgawe aan die Here ge­gee. Nadat hy sy studies voltooi het, het hy nie sy ideaal verwesenlik en ’n praktyk geopen nie, maar as ’n sendelinggeneesheer Labrador toe gegaan. Veertien jaar later het hy mnr. Moody in Boston opgesoek. Hy het mnr. Moody vertel, hy het veer­tien jaar tevore onder sy prediking tot beke­ring ge­kom het. Mnr. Moody was verheug om dit te hoor, maar toe vra hy: “Dit was veertien jaar gelede. Wat het jy sedertdien gedoen?” “Wat het ek in die veertien jaar gedoen? Deur God se genade het ek geleef en gewerk dat andere ook Christus moet leer ken.” “Het jy nog nooit jou keuse van die be­steding van jou lewe berou nie?” “Nimmer!” roep die jong dokter hartlik uit. Nog nooit was iemand spyt oor sy toewyding aan die Here nie of spyt oor wat hy vir die Here kon doen nie. ’n Onvrugbare en onbruikbare geloofslewe is ’n bron van berou. Almal wat in Christus redding gevind het, word geroep tot ’n toegewyde lewe wat vir God se koninkryk vrugte dra.

Die gelykenis van die teleurstellende vyeboom praat ernstig met ons. Die onvrugbare boom moet uitgekap word. Jesus het ook gesê: “Ek is die wingerdstok en julle die lote. Wie in my bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog” (Joh.15:5,6). In die gelykenis van die goue munt­stukke (Lukas 19:13) en die dienskneg wat sy muntstuk begrawe het, in plaas van daarmee handel te dryf, kom dieselfde eis van bruikbaarheid na vore. “…’n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in ’n doek gebêre …’ Toe sê (die man) vir hom: ‘Jy is ’n slegte slaaf!’” Hoe antwoord óns op mnr. Moody se vraag: “Wat het jy sedertdien, sedert jy die Here leer ken het, vir Hom gedoen?”

In die gelykenis van die vyeboom, kom daar ’n be­moe­digende wending in die storie, ná die eienaar se opdrag: “Kap hom uit”. “Maar die tuinier antwoord: ‘Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrug­te dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.” Die Here Jesus tree in vir sy volgelinge wat nie in sy Vader se koninkryk vrug dra nie. Die Here se Woord dring in die hart in, soos die tuinier se graaf die grond rondom die onvrugbare boom loswoel. Die Heilige Gees maak die hart vrugbaar om geestelike vrug voort te bring, soos die bemesting die vyeboom krag gee om vrug te dra. “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer …as ligdraers in die wêreld” (Fil 2:12-15).

“Here, maak my vandag gewillig en bekwaam om vrugbaar vir U te leef.