Lees Markus 12:41-44
“Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: ‘Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het” (43).
’n Arm weduwee het in ’n besienswaardige vuurtoring aan die suidelike kus van Engeland gewerk. Haar inkomste uit besoekers se fooitjies was gering. Sy het nietemin besluit om haar inkomste van ’n bepaalde dag vir sendingwerk te gee. Op dáárdie bepaalde dag kom ’n deftige vrou en haar netjiese dogter die vuurtoring besoek. Hulle gee vir die vrou ’n kroon (lankal se vyf sjielings, 50c) as ’n fooi. Destyds sommer baie geld! Die groot bedrag bewerk dadelik ’n stryd in die vrou se hart. Sy het lus en verskuif haar sendingbydrae se dag ’n dag vorentoe. Sy stry die saak in haar hart uit en gooi ’n halfkroon in haar sendingbussie. Maar sy kry nie geslaap nie. In die middel van die nag staan sy op, haal die halfkroon uit die bussie, en gooi die deftige vrou se kroon in die sendingbussie. Toe raak sy rustig aan die slaap. (Daar is nie nog so ’n goeie slaapmiddel as ’n goeie gewete nie!) ’n Paar dae later ontvang sy ’n brief, met ’n koninklike stempel op. Dit is van die vrou en haar dogter. Ingesluit was die enorme bedrag van vyf-en-twintig pond (R50). Honderd voudig die 50c wat sy ingegooi het. Die vrou was die Hertogin van Kent en die dogterjie was die latere koningin Victoria van Engeland.
Soos Jesus gekyk het hoe die arm weduwee haar twee geldstukkies in die offerkis gooi, kyk Hy steeds hoe ons uit ons geld vir sy konirkryk gee. “Julle gawe is voor God ’n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus” (Fil4:18,19).
“Here, vandag gee ek uit my geld van harte u deel.”