Lees Matteus 16: 26 – 28 – Ou Vertaling
“Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?” (26)
Keiser Karel die Grote van die Franke en later ook van die Romeinse ryk en feitlik geheel Europa, in die jare 742 – 814, kon toe die rykste man op aarde genoem word. Hy het die Christelike godsdiens aangeneem en was die Pous se regterhand. Hy het skole gestig en in sy ryk baie goeie dinge gedoen. Self kon hy dit met die lees en skryf egter nie verder bring as om sy naam te teken nie! Maar dit is ook hy wat ander met wapengeweld gedwing het om sy Roomse Christelike geloof te aanvaar. Robert J. Morgan vertel, hy het opdrag gegee om in koninklike gewaad en houding, op sy troon, met sy swaard langs hom en sy kroon op sy kop, en met die Evangelie van Matteus oop op sy skoot, begrawe te word. Toe sy graf later oopgemaak is, het hy nog so daar op sy troon gesit: die kroon skeef op sy skedel, sy swaard onaangetas langs hom, die Evangelie van Matteus op sy kaal, geel knieknoppe, sy benerige, krom voorvinger op die bladsy voor hom by Matteus 16:24: “Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?”
Vir élkeen van ons is ons sterfoomblik die belangrikste oomblik van gans ons lewe. Ons hele lewe, wat verbygegaan het, se waarde word in daardie oomblik opgesom. Ons lewe in die ewigheid begin dan. Wat ons kan saamneem hemel toe, tel dan. “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar…” (Mat.6:20). “’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem” (Heb.9:27,28).
“Here, vandag wil ek sekermaak dat ek ook deel in die voordeel van hulle wie sondes weggeneem is.”