Lees 1 Johannes 1: 5-10
“Maar as ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (9).
‘n Seuntjie en sy sussie het hulle vakansie op hulle oupa en ouma se plaas deurgebring. Jannie se oupa het vir hom ‘n rekker gemaak, maar hy kon maar net nie regkry om ‘n voël raak te skiet nie. Een middag het hy weer leë hande huis toe gegaan, toe ‘n eend met haar kleintjies, voor hom oor die pad loop. Op die ingewing van die oomblik mik hy en skiet. Vir die eerste keer was dit raak. Hy kon sy oë nie glo toe die eendjie pootjies na bo bly lê nie. Verskrik het hy die eendjie gegryp en agter ‘n hoop hout ingegooi. Toe hy omdraai, sien hy hoe Lettie, sy sussie, vir hom staan en kyk.
Die aand na ete sê hulle ouma: “Lettie, kom help met die skottelgoed.” Sonder om op te kyk van haar boek af, antwoord Lettie: “Ouma, Jannie het gesê hy sal vanaand met die skottelgoed help.” Jannie het sonder ‘n woord sy speelding neergesit en ewe gewillig die skottelgoed help was. Die volgende oggend het oupa hulle geroep om saam met hom winkel toe te ry. “Nee,” het ouma gekeer, “Lettie kan nie gaan nie, sy moet my help om die groente vir ete te skil.” Lettie het geglimlag. “Nee, Ouma,” sê sy, “ék ry saam. Jannie het gesê hy wil met die groente help.” Ewe gedwee het Jannie agter die bak groente ingeskuif, terwyl Lettie lekker saam met haar oupa winkel toe ry. Vir ’n paar dae gaan dit so aan. Jannie werk soos ‘n slaaf vir Lettie. Toe kon hy dit nie langer verduur nie. Hy gaan na sy ouma toe en terwyl hy in trane uitbars vertel hy haar die hele storie. Sy slaan haar arms om hom en druk hom teen haar vas. “My arme kind, ek het ook daar naby gestaan. Ek het gesien hoe jy die eendjie ompiets. Omdat ek jou liefhet, het ek jou dadelik vergewe. Ouma sal mos nie oor die ou eendjie vir jou kwaad wees nie. Ek wou net gehad het jy moet dit self vir my kom vertel. Lettie het jou darem onnodig laat swaarkry! Ek het gewonder hoe lank gaan jy uithou, dat sy so ‘n slaaf van jou maak.”
Skuldgevoel maak slawe van ons. Ons voel sleg en ongelukkig. Ons ly onder ons skuldige gewete. En al die tyd wag God, wat alles van ons weet en ons liefhet, vir ons om na Hom toe te kom, ons sonde te bely en die vergifnis wat Jesus vir ons aan die kruis bewerk het aan te neem. “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb.4:16).
“Here, vandag is ‘n dag van genade en vergifnis om Jesus ontwil. Ek bely aan U die dinge wat skuldig druk op my hart.”