Die Blye Boodskap

Lees Lukas 2:8-20

“Vandag is daar vir julle die … Verlosser gebore, Christus die Here…julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê” (10-12).

Een oggend word ’n boemelaar in ’n vreem­­de soort bed wakker. Hoe hy daar ge­kom het, weet hy nie, want hy was die vorige aand weer dronk. Buite is dit koud, ’n Euro­pese koue, maar hy lê lekker, sag en warm. Ook ’n ongewone seën vir hom. Hy probeer vasstel waar hy is. Met die pynklop in sy kop, is hy vanoggend besonder bewus van hom­self. Waar is hy? Hy lê langs lewe, want hy voel die beweging van asemhaling – en die vrien­delike warmte. Hy steek sy hand uit en voel. Hy lê op strooi en – langs ’n koei!  Van al­le plekke is hy in ’n stal.

Hy glimlag wrang. Hy het darem diep ge­val. Nou kom die honger en hy dink aan ontbyt. Waar sal hy iet­sie te ete kry? Gister is hy by ’n paar plek­ke weggejaag omdat hy vuil en half besope was. Sy soort is nêrens welkom nie. Hy is een van die diep­geval­le­nes in die wêreld.

Klok­ke begin beier. Hy hoor ook sang. Sang wat nader kom. Baie kinderstemme. Dit daal oor hom: Dit is Kersfees! Trane brand in sy oë. Kersfees, en hy lê in ’n stal langs ’n koei! Kan enige mens dieper val? Hy luister na die woorde wat die kinders sing. Dis woorde van die liedere en die dinge van die He­re wat hy as kind en jongmens in sy huis en  kerk geleer het. Dit kom terug in sy hart:

Die Heiland is gebore in stille Betlehem….  So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Seun, sy enige, gegee het as Middelaar en Steun….. Kom na die krip so need’rig, daar lê die Kindjie teer….  Word U uit sondaarsliefde ’n Kindjie, swak en klein …. Wou U uit gindse hemel op aard’ by ons kom woon… Dan bied ons nou ons harte U, die liewe Heer, tot troon!

Die sang word sagter, die singende kinders gaan verby, maar die woorde bly agter in die gedagte van die man wat in die strooi langs die herkouende koei lê. Hy, die Seun van God, het ook in ’n stal, in ‘n krip gelê! Hy het ook na hóm toe gekom. Die boemelaar begin snik. Hy kniel langs die koei in die strooi. Hy bedek sy gesig met sy hande en druk, knielende, sy kop teen die grond. “Ek het diep, diep geval, Here, maar U het tot in die stal by my gekom. Kom in my hart, Here Jesus, en maak dit u troon. Red my, Here…” Stilte kom in sy gemoed. Vrede kom in sy hart.  Hy wat uit die hemel afgekom het tot in ’n stal, om te soek en te red dié wat verlore is, het tot by hierdie diep­gevalle man in die stal gekom en hom gered en nuut gemaak. Niemand het ooit te laag gedaal dat Jesus, die Saligmaker, hom nie kan bereik nie. “Hy wat in die gestalte van God was het Homself verneder… ja, tot die dood aan die kruis” (Fil.2:6-8). Dit is die blye, hoopvolle boodskap van Kersfees!

“Here, vandag glo ek U kom tot hier waar ek nóú is.”