Lees Romeine 5: 1 – 11
“Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe…God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (7,8)
Een aand, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, loop ’n man en sy seuntjie stadig af in ’n straat, van ‘n groot Amerikaanse stad. In baie huise se vensters hang ’n ster, om te toon ’n seun uit hierdie huis, veg vir sy land. Die seuntjie klap geesdriftig hande vir elke ster wat hulle verbyloop. En as daar meer as een ster in ’n venster hang, beïndruk dit hom mateloos. Hulle kom by ’n gaping tussen die huise en voor hulle is die donker gewelf van die verdonkerende aandlug. Helder glinster die aandster teen die swart hemelgewelf. “Kyk, Pappa!” roep die oudjie opgewonde uit. “Kyk, daar is ’n ster in God se venster. Hy het ook sy Seun gegee!”
Dít is die Kersverhaal: God het uit liefde vir ons sy Seun gegee. Die prediker, D. L. Moody, sê hy het in sy prediking die liefde van Christus vir sondaars, baie beklemtoon. Toe word hy pa van ’n seuntjie en leer ’n pa se liefde vir sy seun ken. Sy prediking het ’n klemverskuiwing ondergaan. Toe beklemtoon hy God se liefde vir ons, omdat Hy sy Seun gegee het sodat ons gered kan word. “Werklike liefde is dit:…die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes…En ons het gesien en ons is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het…En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin” (1Joh.4:10,14,16).
“Here, dankie U het u Seun vir óns gegee.”