'n Gerusstelling

Lees Johannes 11: 1 – 16

“Here, hy vir wie u lief is, is siek” (3)

Kenneth Osbeck vertel van die professor van die Princeton-kweekskool wat gewoond was om sy klas af te sluit met die woorde: “Gentlemen, there is still much in this world and in the Bible that I do not understand, but of one thing I am certain – ‘Jesus loves me, this I know for the Bible tells me so’ – and gentlemen, that is sufficient!” Hy het die woor­de aangehaal van die lied wat veral deur kinders ge­sing word, maar vir ons net so troosvol is: “Jesus min my, salig lot! Dit leer my die woord van God; Al is ek ook swak en blind, Nogtans noem Hy my sy kind.” Vir Marta en Maria was dit ‘n groot troos oor hulle broer wat siek gelê het: Jesus het hom lief ge­had. Die onmiddellike verloop van sake het dit weer­­spreek, want Jesus het gewag totdat Lasarus dood en begrawe was voor Hy na hulle toe gegaan het. Die uiteinde van hulle vertroue in Jesus, al het hulle vertroue ook gewankel, was goed en het op ‘n fees­maal uitgeloop. Dwars­­deur ons beproewings moet ons net daaraan vashou: Jesus het ons lief. Hy sal vir die beste op­lossing sorg.

Die lied is in 1860 deur Anna B. Warner, met die sa­­mewerking van haar suster, Susan, geskryf. Dit was deel van ‘n roman, Say and Seal, wat hulle ge­skryf het en wat in daardie tyd ook ‘n blitsverkoper was. In die boek ontvou ‘n roerende toneel. Een van die karakters in die boek, Mr. Linden, troos ‘n sterwende seuntjie, Johnny Fax, deur vir hom hier­die lied te sing. William Bradbury het die melodie in 1861 gekomponeer en die koortjie by Anna War­ner se vier verse gevoeg: (Hal.437)

Ja, Jesus min my! Ja, Jesus min my! 

Ja, Jesus min my! Ek weet dit uit Gods Woord.

 “Here, vandag weet ek uit u Woord U het my lief.”