Die Goeie Herder

Lees Johannes 10:1-16                     - Uit: Stories vir die Lewe

“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”(11)

 Sir George Adam Smith, beroemde Ou-Testament­i­kus, vertel hy was eendag op reis in die Nabye Ooste toe hy op ’n skaapwagter en sy trop skape afkom. Hy begin met die skaapwagter gesels en dié wys hom die skaap­kraal. Vier mure en ’n opening. Sir George vra: “Bly die skape snags hier?” “Ja, en as hulle daar is, is hul­le heeltemal veilig.” “Maar daar is dan nie ’n hek nie,” sê-vra sir George. “Ek is die hek,” sê die skaapwag­ter. Hy was nie `n Christen nie en het nie die beeldspraak van die Nuwe Testament geken nie; hy het uit die oog­punt van ’n Ara­­biese skaapwagter gepraat. Sir George vra hom wat hy bedoel. “Wanneer dit saans donker raak en al die ska­pe is binne, gaan lê ek in die opening. Geen  skaap kan uitgaan sonder om oor my te moet klim nie, en geen wolf kom in sonder om oor my te moet klim nie. Ek is die hek.”

So beskerm die Here Jesus ons ook met sy eie Per­soon. Hy staan Self tussen ons en ons vernietigende vy­and, die duiwel, wat rondgaan en soek wie hy kan ver­slind (1 Petrus 5:8). Hy beskerm ons ook met sy eie Per­soon teen ons eie afdwaling. Ons kan nie wegloop sonder dat Hy weet en ons keer nie. Jesus het aarde toe gekom om so naby en beskermend by ons te wees.

“Here, U is by my en U beskerm my.”