Lees 1 Petrus 1:22-25
“…die lewende en ewige woord van God…” (23)
’n Uitgesproke godloënaar stuur vir ’n jongman ’n pak ateïstiese leesstof. Hy raai hom aan om liewer daardie lektuur te lees as om die Bybel te lees. Power vertel die jongman skryf aan die man terug: “As u iets beter het as die Bergpredikasie, die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan of die Verlore Seun, ’n beter gedragskode as die Tien Gebooie, iets meer vertroostend as Psalm 23, of in die geheel iets het wat meer lig werp op die toekoms, of aan my ’n genadiger God en versorgender Vader kan bekendstel as die Bybel, of ’n Verlosser aanbeveel met ’n beter oplossing vir my verlede en ’n hoopvoller uitsig op my toekoms, as die Nuwe Testament, stuur dit dan vir my, asseblief.”
Vir Dawid, met sy groot liefde vir God, was die Skrif baie kosbaar: “Die woord van die Here is volmaak; dit gee lewe…die bepalings van die Here is reg…hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning as druppels uit ’n heuningkoek… (Ps19:8-11). Vir almal wat deur die Here se woord, deelgekry het aan die ewige lewe en in ’n persoonlike verhouding met die Here Jesus staan, is die Bybel onvervangbaar en onmisbaar. Die mate waarin die Bybel vir ons onontbeerlik raak, toon in watter mate God se koninkryk ons hart in besit geneem het. Deur die lees van die Bybel vind óns hart God se hart, leer ons ons Here en Vriend, die Here Jesus beter ken. Ontvang ons die leiding en lering van die Heilige Gees. Ek probeer elke dag, saam met die ander Bybelgedeeltes waarmee ek besig is, een evangeliehoofstuk lees. Ek wil Jesus elke dag in my gees sien wandel, handel en praat. Lees en lees die Bybel!
“Here, vandag is u woord vir my onvervangbaar”