Wang teen wang

Lees Romeine 11: 33 – 36
“Wie ken die bedoeling van die Here?” (34).

Toe ds. Malan Nel nog ’n seuntjie was, vertel ds. Wollie Wolhuter vir my die storie, het hy op ’n dag saam met sy pa in die veld gestap. “Kyk daardie pragtige koedoe,” sê Malan Nel se pa vir hom. Hy kyk en probeer die koedoe tussen die bome raaksien, maar verniet. Hy sien hom net nie. “Kom,” sê die pa vir sy seun, “sit jou wang hier teen pa se wang en dan kyk jy reguit oor my vinger.” Malan Nel sit sy wang teen sy pa se wang en kyk reguit oor sy pa se wysvinger en daar, yslik groot tussen die bome, sien hy ook nou die koedoe raak.”

Uit ons eie, met ons menslike en vleeslike oog, kan ons nie in hiedie wêreld die dinge raaksien, wat vir God en sy koninkryk belangrik is nie. Ons sien nie mense se nood, fisies en geestelik, raak nie. Ons het nie ’n saak met die verkondiging van die evangelie van Christus Jesus en die uitbreiding van God se koninkryk in hierdie wêreld nie, want ons sien die belangrikheid daarvan nie raak nie. Eers as ons naby God kom, wang teen wang, hart teen hart, gaan ons oë oop om God se belange in hierdie wêreld raak te sien. “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak… (1 Kor.2:8,10).

“Here, vandag wil ek naby genoeg aan U kom, om u belange in hierdie wêreld te verstaan.”