Lees: Handelinge 17: 1 – 5
“… het Paulus …uit die Skrifte..uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan…” Hand.17:3.
Die lied wat die boetie en sussie met soveel oorwinning gesing het, is ’n duur lied. Tydens die herlewing in Philadelphia in 1858 het ‘n 29-jarige Episkopaalse predikant, Dudley Tyng, die evangelie met groot krag verkondig. Een Dinsdagaand, 30 Maart 1858, het meer as 5 000 mans in die Y.M.C.A.-saal bymekaar gekom en na sy preek oor Eksodus 10:11 te luister. Hy het uitgeroep: “Net die mans gaan! Gaan dien die Here…!” Meer as ’n duisend van hulle het dié aand hul lewens aan die Here oorgegee. Op een stadium in sy preek het hy uitgeroep: “I must tell my Master’s errand, and I would rather that this right arm were amputated at the trunk than that I should come short of my duty to you in delivering God’s message.” Die volgende week het hy op ’n plaas gestaan en kyk hoe ’n dorsmasjien koring dors, toe ’n wiel sy mou gryp en sy arm tussen die groot ratte vergruis word. Die skok en bloedverlies, skryf Kenneth Osbeck, het sy dood veroorsaak. Op sy sterfbed het ’n groepie bedroefde vriende en ander leraars ’n laaste woord van hom gevra. Hy het sag gefluister: “Let us stand up for Jesus.” ’n Medewerker en vriend, eerw. George Duffield, van die Temple Presbyterian Church in Philadelphia, het in sy Sondagoggendpreek hulde gebring aan die ontslape prediker en toe ’n gedig gelees wat hy gaan skryf het na hy Dudley Tyng se laaste woorde gehoor het: “Stand up, stand up for Jesus, ye soldiers of the cross!” Hoekom het so iets met die getroue jong prediker gebeur? Ons sal nooit weet nie. Nie een van sy preke het bewaar gebly nie, maar die lied wat soos ’n vrug uit sy ongeluk en dood voortgekom het, spreek tot vandag toe aanmoediging tot Jesus se volgelinge.
“Here, vandag wil ek vir U opstaan en U bely.”