'n Mooi antwoord

Lees Matteus 5: 38 – 46

“As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe” (38,39).

In die tydskrif Revelation, word ’n storietjie vertel, van ’n dog­tertjie wat, boektas om die skouer, wit rok en wit skoene aan, op pad is skool toe. In haar hand het sy ’n bossie wit blomme vir haar juffrou. Sy loop by ’n seuntjie verby wat in die grondpad sit en speel. Toe sy regoor hom kom, gooi hy haar met ’n handjievol modder. Sy kom botstil tot stilstand. Haar gesiggie word bloedrooi asof sy aan die huil wil gaan. Sy kyk na hom, waar hy met wakker ogies sit en kyk wat sy gaan doen. Sy glimlag skaam, breek  een van die blomme af en gooi dit vir hom. Verbaas vang hy die blom teen sy bors en sit ’n oomblik verleë daarmee in sy hande. Toe spring hy op, laat sy speelgoed net so lê en hardloop na sy huis toe daar naby.

Dit is die soort gedrag wat die Here Jesus van sy dissipels verwag: ’n vriendelike en goeie hou­ding of daad, in antwoord op kwaadwilligheid. Om so te kán optree, het ons Jesus se eie lewe in ons nodig. Die Heilige Gees vorm Jesus se eie lewe in ons harte as ons met Bybellees en gebed met Hom omgaan. As Hy koning in ons harte is, gedra ons ons ook soos sy onderdane. “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het…En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee…” (Kol.3:13,15,16).

 “Here, vandag wil ek kwaad met goed vergeld.”