SKRIFDEEL: Markus 9: 33 – 41
“Elkeen wat vir julle `n beker water te drinke sal gee… hy sal beslis die beloning daarvoor kry…(41)
Een hetige Augustusdag, kom `n kapkar, getrek deur twee uitgehongerde perde, voor `n huisie op die Kansas Prairie, tot stilstand. Die kardrywer is besope, die vrou siek, vier kinders sit huilend op hulle sitplek. `n Jong meisie maak die huisdeur oop. “Enige water vir ons?” kreun die besope drywer. Die werf se waterput het in die droogte droog geraak, maar sy kry `n emmer vol water vir hulle bymekaar. Haar ouers was juis weg om te gaan water soek. Rachel dra die emmer water na hulle toe. Die dorstige gesin op die kar drink die hele emmer water leeg. Die siek ma sê vir die meisietjie: “Onthou, my kind, vir so ver jy dit aan die minste gedoen het…” Dit is `n aanhaling van Matteus 10:42: “Wie aan een van hierdie geringstes net `n beker koue water gee…” Die kar ry verder. Jare gaan verby en Rachel word `n waardige vrou. Op `n keer reël sy vir `n bekende matigheidspreker, om in haar dorp `n lesing te kom gee. Ek haal die spreker se eie woorde uit The Illustrator aan : “’I love Kansas,’ the temperance man began, ‘for on its plains I made my first temperance pledge.” Hy vertel van die jongmeisie wat met moeite vir hulle `n emmer water gebring het, en hoe sy pa die drankbottel weggegooi het as `n dankoffer vir die water. En hoe hyself sy ma beloof het om by die “cold water army” aan te sluit. Weer Illustrator se eie woorde: “As she listens to the testimony of the outcome of the bucket water she gave to the strangers, Rachel bowed her head to hide the glad tears.”
`n Goeie en helpende daad, in `n onbeplande oomblik, aan iemand, bekend of vreemd, het soms `n geseënde nadraai en vrug wat ons nooit sou kon voorsien nie. Laat ons gereed wees om in `n oomblik van iemand se nood of verleëntheid, met die middele tot ons beskikking, hulp te verleen. Ons doen dit gehoorsaam aan die Here Jesus se woorde. Die Samaritaanse vrou, in Johannes 4, het wel onder protes vir Jesus `n beker water gegee om te drink, maar dit het vir haar onbeskryflike seën gebring.
“Here, vandag wil ek opmerksaam wees om iemand te kan help.”