Lees Markus 10: 13 – 16 Ou Vertaling
Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God…En Hy het sy arms om hulle geslaan en hulle geseën.” (14, 16)
`n Man het een nag by ’n plattelandse gesin oornag. Die oulikheid en mooi maniere van die mense se seuntjie van 5 jaar, het op hom groot indruk gemaak. Die volgende oggend ontdek hy die rede, vir die kind se goeie gedrag. Die ma was in die kombuis besig om die roomafskeier te was, toe die seuntjie met ’n boek in die hand by haar inkom. “Ma,” vra hy, “wat maak die man hier in die prent?” Tot die kuiergas se verbasing, staak sy haar werk, droog haar hande af, hurk by hom en saam met hom kyk sy na die prent en verduidelik sy wat in die prent aangaan. Na die kind weer die kombuis verlaat het, gaan hy na die die ma toe en spreek sy verbasing uit dat sy haar werk onderbreek het en soveel tyd aan die seuntjie bestee het. “Meeste ma’s sou vir hom gesê het om te gaan speel en later na haar toe te kom.” Die vrou het geantwoord: “Ek verwag om nog vir baie jare elke oggend die roomafskeier te was, maar my seuntjie sal my dalk nooit weer daardie bepaalde vraag vra nie. Ek kon so ’n geleentheid nie verby laat gaan nie.”
Dit is ’n goeie geleentheid om op so ’n stadium, die Here Jesus en evangeliewaarhede by ons kinders tuis te bring. Die voorbeeld wat dan ook, met ons eie lewe en toewyding aan die Here gestel word, is belangrik.
Die digter, Samuel Coleridge, en ’n vriend het in Coleridge se tuin gestap en die gesprek het oor die opvoeding van kinders gegaan. Die man sê vir Coledridge. “Ek leer my kind niks oor godsdiens nie. Dis ’n moeilike onderwerp en hy moet self, as hy eers groot is, sy keuses maak.” Juis toe stap hulle by ’n pragtige bedding aarbeie verby. Coleridge sê: “Ek wou die onkruid laat uithaal, maar jy het my nou goeie raad gegee. Ek gaan wag tot die aarbeie eers groot is.” “Dan sal die onkruid die oorhand hê!” sê die man verbaas. “My vriend, wat dan van jou kind?” vra die digter sag.
’n Man het by sy leraar se studeerkamer ingegaan. “My dogtertjie is skielik vanoggend dood,” sê hy veslae. “Ek hoop sy is na God toe. Wat sal sy vir God sê? In haar pa se huis en van haar pa se lippe het sy nooit ’n gebed gehoor nie. Ag, as ek haar net een dag weer by my kan hê.” Gebedlose huise, gebedelose ouers, stilte in die huis, wat die vermelding van Jesus se Naam as ons Verlosser en elke mens se ewige toekoms betref, is vir ’n kind ’n onberekenbare terugslag. Is u klein kindertjies nog by u? U kleinkinders? Maak gebruik van die geleentheid om hulle met die Here bekend te maak.
“Here, vandag wil ek voor my kinders en met my kinders van U en u koninkryk praat.”