SKRIFDEEL: Lukas 19: 1 – 10
“Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan…hy het Jesus met blydskap ontvang” (5)
`n Misdadiger het in `n tronk op die voltrekking van sy doodstraf gesit en wag, vertel The Presbyterian. `n Predikant het hom besoek en hom probeer help om tot bekering te kom. Hy kon net nie by die man ingang vind nie. Op pad terug huistoe, loop die dominee `n bejaarde lidmaat van hom raak, wat vir sy toegewydheid aan die Here bekend was. Hy vra die man om met die misdadiger te gaan praat. By die misdadiger in sy sel aangekom, gaan hy langs die man sit, neem sy hand in sy eie hand en sê met groot gevoel en eenvoud: “Is dit nie wonderlik dat God in sy groot liefde vir ons, sy Seun gestuur het om vir sondaars soos ek en jy te kom sterf nie.” Binne oomblikke breek die man se hart oop en begin hy huil. Later het hy gesê: “Toe die predikant met my gepraat het, het dit gevoel soos iemand wat van ver bo my met my praat. Maar toe die ou man inkom en langs my kom sit en hom met my klas, deur te sê: ‘Was dit nie `n groot liefde van God om sy Seun in die wêreld te stuur om vir sondaars soos ek en jy te sterf nie, kon ek dit nie meer uithou nie. Ek het my hart vir die Here oopgemaak en ek gaan nou met moed my slegte straf tegemoet.”
`n Nederige houding en groot meegevoel vind ingang by mense. Dit is hoe Jesus self met mense omgegaan het: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee…want Ek is sagmoedig en nederig van hart….” (Mat.11:28).
“Here, vandag wil ek vir U bruikbaar wees.”