Lees Matteus 25: 31 – 46
“En die Koning sal hulle antwoord: Vir sover julle dit aan een van geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (41).
Op 50-jarige ouderdom het die Russiese romanskrywer, Leo Tolstoy, ‘n besondere belangstelling in geestelike dinge begin ontwikkel. Hy het die Evangelies ernstig begin bestudeer. Ongelukkig het hy meer verwerp as wat hy aanvaar het. Geloof in wonderwerke het hy afgemaak. Die godheid van Christus, dat God ’n persoon is en die weg van verlossing, het hy verwerp. Vir hom was Christenskap niks meer as liefdadigheid en goeie werke nie. Hieroor het hy pragtig geskryf. Hy het ’n verhaal geskryf, wat vir ons wat in Christus glo, meer beteken as wat dit vir homself beteken het. Hier is die storie wat hy geskryf het:
Een aand het Martin Avdeitch, ’n eenvoudige skoenmaker, oor sy Bybel ingesluimer. Hy verbeel hom hy hoor iemand sê: “Martin! Hou môre die straat dop. Ek kom jou besoek.” Oortuig daarvan, Jesus gaan na Hom toe kom, begin hy die nuwe dag met opgewondenheid. Elke voetstap by sy deur, laat hom vinnig opkyk. Maar al wat opdaag, is ’n bedelaar. Toe ’n verslonsde vrou met ’n baba in haar arms. Later ’n ouman wat honger is. En nog later ’n paar ander behoeftige mense. Met ’n jammer hart voorsien Martin, so goed hy kan, in elkeen se behoeftes. Dit word aand en met teleurgestelde hart, maak hy sy sy deur toe. Jesus het toe nie gekom nie. Hy sit sy bril op en maak sy Bybel oop. Hy maak die Bybel, soos hy dink, toevallig, by Matteus 25 oop. Hy begin sommer lees: “’Kom julle wat deur my Vader geseën is…want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee…’ Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘…wanneer?’ En die Koning sal hulle antwoord: ‘Vir sover julle dit aan een van die geringstes…gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’”
Dit behoort een van die bekendste kenmerke van ’n Christen te wees, ander vind baat by sy Christenskap. Die goedheid, in die Here Jesus Christus se hart, soos Hy dit self op aarde uitgeleef het, vloei nou deur sy volgelinge se lewens, na ander toe.
“Here, vandag wil ek ter wille van U, uit u krag en liefde, aan ander goeddoen.”