Lees Psalm 56: 4 – 12
“Dít weet ek: God is aan my kant…in God stel ek my vertroue…ek is nie bang nie” (4,5)
Grace C. W. Groben vertel van `n ervaring met haar kindjie, wat `n kosbare boodskap oor God se nabyheid na haar eie hart toe gebring het. Haar eersteling, `n dogtertjie, het van die begin af by haar geslaap. Toe kom die tyd dat sy haar die gewoonte om by haar ma te slaap, moet afleer. Sy moes in haar eie bedjie begin slaap. Daardie eerste aand lê sy haar kindjie in haar eie bedjie neer, liefkoos haar `n rukkie, gee haar `n laaste nag-soentjie en skakel die lig af. Grace bly in die donker naby haar kindjie sit. Vir `n lang tyd huil haar dogtertjie hewig – eers kwaad, toe verdrietig, toe vol vrees. Sy moes gedink het haar ma het haar verlaat, haar alleen in die donker laat lê. Die werklikheid was dat haar ma elke snikkie gehoor het, saam gesit en huil het, gehunker het om haar kindjie op te tel. Vir die kind se eie beswil het Grace haarself beheer. Hieroor skryf Grace: And so, in times of affliction, our God indeed hears our cry, is near and feels for us, though for our own good He may hide His face and may seem not to hear.”
God lei ons deur `n leerskool van moeilike omstandighede om die volheid van sy liefde en trou te leer ken. God handel met ons soos `n kind se eie pa en ma met hom werk – net beter en meer verstandig as wat ons dit ooit kan doen. Hy ken ons behoeftes en ons swakhede: “Soos `n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is” (Ps.103:13,14). Al lyk dinge vir ons ook donker, soos vir Grace se kindjie, God is naby aan ons. Hy sal ons nie in die steek laat nie. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps.23:5). Abram, wat later Abraham geword het, en uit wie se lang stamboom Jesus later gebore is, is `n voorbeeld van hoe God `n man deur die leerskool van geloof kan stuur totdat later van hom gesê kan word: “Abraham het in God geglo…” (Jak.2:23).
“Here, vandag vertrou ek op U nabyheid.”