Krag om te staan

SKRIFDEEL:  Efesiërs 6:10-20

“Soek julle krag in die Here en in sy groot mag”(10).

In die Tweede Wêreldoorlog het ‘n jong sol­daat in die loopgraaf, ‘n Nuwe Testament gesit en lees. Sy kaptein kom op hom af. “Wat maak jy met daardie boek hier?” vra hy bars. “Dit sal jou ‘n ouvrou maak!” Die soldaat kom op aandag. “Ek is bang, Kaptein,” ant­woord hy eerlik. “Dis al manier hoe ek dapper kan wees. Hierdie boek gee my moed. Dit neem die vrees vir die dood weg.” Ter­wyl hy praat, bars ‘n bom naby hulle. Een van die kartetse verbrysel sy kop.

Die offisier het die Bybeltjie eerbiedig op­ge­tel en in sy sak gesteek. Hy het dit self be­gin lees. Dit het ‘n groot invloed op hom gehad. Hy het moed ge­skep en die lewe het vir hom weer sin gemaak. Hy het gesorg  elk­een van die manne onder sy bevel kry `n Nuwe Testament.

Die lees van die Bybel maak ‘n mens nie week nie, maar sterk. Vir baie mense het die lees van die Bybel in tye van groot behoefte en neerslagtigheid, nuwe hoop en moed in hul hart ontsteek. Bybellees is nie ‘n gods­diens­tige plig nie. Dit is ‘n groot voorreg. Dit bring lig en geloof in die siel. Dit stil die siele­honger. Verwaarlosing van die Bybel is die grootste onreg wat ‘n mens homself kan aandoen. Hy ontsê homself ‘n bron van krag en vreugde. Hy ontsê homself die voorreg om na God te luister.

Bybellees bring ons hart met God se hart in aan­raking, want dit is sy Woord. Hy praat innig met ons. Die Heilige Gees gebruik God se Woord om die Here Jesus aan ons bekend te maak. Deur ons kennis van Christus en vertroue in Hom, vind ons vergifnis en vrede en gaan al die ryk­domme van die hemel vir ons oop.


“Here, vandag gee ek U Woord plek in my dag.”