Lees Handelinge 9: 36 – 43
“Al die weduwees het by Petrus kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het” (39).
Nicholas Halasz word in Robert Raines se boek, Creative Brooding, aangehaal, om ’n storie oor Alfred Nobel te vertel. Een oggend in 1888, lees Alfred Nobel, die man wat deur sy uitvinding van dinamiet beroemd geword het, sy eie doodsberig in ‘n oggendkoerant. Hy het ’n fortuin versamel deur sy vervaardiging en bemarking van wapens. Die doodsberig was ’n joernalistieke flater. Alfred se broer is oorlede, maar ’n koerantman het sonder om verder ondersoek in te stel, dit as die dood van Alfred aangekondig. Enige mens sal ontsteld wees om jou eie doodsberig in ‘n koerant te lees. Vir Alfred Nobel was dit ’n oorweldigende skok, want in die berig het hy homself gesien, soos die wêreld hom sien. In Nicholas Halasz woorde: “The dynamite King (the weapon maker), the great industrialist who had made an immense fortune from explosives. This – as far as the general public was concerned – was the entire purpose of his life.” Nie een van sy werklike motiewe…to break down barriers that separated men and ideas…het in die doodsberig aandag gekry nie. In die oë van die publiek was hy ’n merchant of death! Daarvoor sou hy onthou word. Terwyl hy die berig met geskokte afgryse lees, neem hy hom voor om die werklike doel van sy lewe aan die mense te vertoon. Dit gaan hy doen, besluit hy, met die bemaking van sy fortuin in sy testament. Nicholas Halasz skryf dit so: “And the result was the most valued of prizes given to this day, to those who have done most for the cause of world peace – the Nobel Peace Prize.”
Hieroor skryf Charles R. Swindol, uit wie se Ultimate Book of Illustrations ek die verhaal aanhaal: “At times I wonder how it would read if my obituary suddenly appeared. And I ask you to entertain that frightful thought for a moment: ‘What is your life known for? What will you be remembered for?’”
Ons lewe, is soos ’n man wat by die strand, terug kyk hoe hy oor die sand geloop het. Hy sien sy spore lê presies soos hy geloop het. Terwyl hy kyk, kom ’n brander en spoel oor sy spore. Toe is daar ongerepte, gladde sand. Deur God se liefde en die groot verlossingsprys wat die Here Jesus Christus betaal het, hoef ons verlede ons ook nie meer te verskrik nie. Soos die brander wis God se vergifnis ook ons misdade uit. “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie…” (Ps.103:10). Maar meer: Ons kan met die hulp en krag van God deur die Heilige Gees, dit wat van ons lewe oor is, aanwend tot heil en vreugde van mense in ons omgewing. Dáárvoor sal ons onthou word.
“Here, vandag bely ek sondes van my verlede wat ek onthou, en ek span my nou in om so te lewe dat dit vir U tot eer en vreugde sal wees.”