Lees 1 Petrus 1: 17 – 21
“…julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus… (19.)
In sy boek, Rebuild Your Life, vertel Dale E. Galloway van ‘n seun wat vir hom ’n houtskippie bou. Met groot moeite en presiesheid, maak hy sy skippie, net soos die prente in sy boek, dit vir hom wys. Hy neem sy skippie na ’n groot dam om dit uit te toets. En, regtig, sy skippie seil. Die ligte wind waai in die seile in en sy skippie wip oor die rimpelings van die water, soos enige groot skip dit sou doen. Onverwags kom `n windvlaag wat die skippie meesleur. Die toutjie, waarmee hy sy skippie vashou, breek en die wind voer sy skippie saam. Hy verloor dit uit sig. Hartseer gaan hy terug huis toe.
Eendag loop die seun straataf by ’n winkel verby. Hy kan sy oë nie glo nie. Sy skippie word in die venster uitgestal met ’n prys by. Hy stap sommer in. Vol blydskap sê hy ewe groots vir die winkelier. “Ek het my skip kom haal.” “Jou skip? Wil jy een koop?” “Nee,” sê die seun met ’n laggie. “Ek wil dit nie koop nie. Dis myne. Ek het hom gemaak,” en hy vertel hoe dit die dag weggeraak het. “Dan weet ek nie,” sê die winkelier. “Ek het dit eendag by iemand wat verbygekom het, gekoop. Jy sal dit nou weer by my moet koop.” Teleurgesteld en naby trane loop die seun huis toe. Van toe af spaar hy elke sent wat hy kry. Uiteindelik het hy genoeg. Hy gaan terug winkel toe. “Ek het my skip kom haal,” sê hy en sit die geld op die toonbank neer. Die winkelier tel die geld, buig na die venster toe en gee vir die seun sy skippie. Die seun gryp letterlik die skippie uit die man se hande en druk dit teen hom vas. Hy roep uit: “Jy is myne én myne. Ek het jou gemaak én ek het jou gekoop. Jy is dubbeld myne!”
Dít is God se besitreg op ons lewe. Hy het ons wonderlik na sy beeld gemaak. Maar die storm van die sonde het ons van Hom weggesleur. Toe het Hy ons duur teruggekoop, met die kosbare bloed van sy eniggebore Seun, Jesus Christus.
“Here, vandag behoort ek heeltemal aan U!”