Die Hoë eis

Lees 2 Korintiërs 8:1-9

“Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (9).

In die vroeë dae van die ontdekking van goud, was aan­­boord van ‘n skip ‘n man, wat met har­de werk en deur ontberinge heen, ‘n groot voorraad goud versa­mel het. Hy was op pad huis toe met sy fortuin. ‘n Brand het op die skip uitgebreek en spoedig was dit duidelik, voor hulle land be­reik, gaan die skip deur die vlamme verteer word. Die skip was nie ver van die land af nie en elkeen aan boord, het eie maatreëls getref om hulself te red. Die man was jonk en sterk. Hy het sy krag geken. Hy het sy goud in bondels in ‘n doek geknoop en vol­gens die gewig, wat hy geweet het hy veilig land toe kon neem, eweredig om sy gespierde lyf gebind. Net voor­dat hy met sy kos­bare las in die see kon spring, hardloop ‘n ver­skrik­te klein dogter­tjie na hom toe en gryp sy bene vas. “Kan oom swem?” gil sy vol angs. Hy het ge­weet hy moes kies tussen sy goud en hierdie on­be­kende kindjie. Hy sou nie die krag hê om haar én sy goud land toe te neem nie. “Ja, my kindjie,” roep hy feitlik dadelik uit. Hy knoop die bondels goud om sy lyf vinnig los en laat dit op die dek val. “Ek kan swem. Kom!” Hy gryp die kind en spring in die branders in. Sy  klou styf om sy nek vas en hy swem met haar land toe.

Ek wens ek het die einde van hierdie storie geken. Al het sy en haar ouers hom ook hoe be­dank en vereer, hul­le sou nooit die prys kon ver­staan wat hy moes betaal om haar te red nie.

So ‘n menslike verhaal bring die betekenis van Jesus se koms aarde toe en sy sterwe aan die kruis, na ons hart toe. Jesus het sy hemelse ryk­dom en heerlikheid prysgegee. Só prys gegee, Hy sê vir die skrifgeleerde wat Hom wou volg: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie” (Mat.8:20). Om ons uit die sink­ende wrak van die verlore mensdom te red, het Jesus ‘n duur prys gekos. Sy eie lewe. Mense wat Jesus as Ver­losser aanneem, maak vir Hóm sy lyding werd. So groot is Jesus se liefde vir ons. Hy sê: “So sê Ek vir julle (daar is) blydskap in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer” (Luk.15:10)

 “Here, vandag oordink ek die prys wat U vir my betaal het.”