Die Gevaarpunt

Lees Handelinge 24:24-27

“Paulus het met Feliks gepraat oor ’n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Dit het Feliks bang laat word, en hy het gesê: ‘Dit is nou genoeg! Gaan maar terug, en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep’” (25)

Op die oewer van die Niagra, waar die stroom­versnelling, op pad na die waterval toe begin, is ’n waarskuwingsbord opgerig: P-a-s-t Redemption Point. Volgens Sunday School Times is iemand, wat hom nog in die rivier bevind, as hy by hierdie punt verbygaan, gedoem om oor die Niagra­wa­ter­val meegesleur te word. Ie­mand wat op die wal gestaan het, het geskryf: “Even while one feels the firm soil beneath his feet, a shiver of horror passes through one’s soul as hy looks off upon the turbulent waters, and rea­lizes the full significance of the sign, ‘Past Re­demption Point’. None can go back if past that point.”  Is daar in ons geestelike lewe en ons kans om gered te word en hemel toe te gaan, ook só ’n laaste, finale bekeringsgeleentheid?

Die Skrif is baie uitgesproke oor God se lankmoedige genade, wat die sondaar oor en oor roep en hom ge­leentheid gee om gered te word. Tog hoor ’n mens insi­dente wat ’n waarskuwing na ons hart toe stuur. Arthur T. Pierson vertel wat ’n bejaarde vrou, van haar sterfbed af, vir hom vertel het. Veertig jaar tevore was haar man baie bekommerd oor sy saligheid en sy verhouding met die Here. Die leraar en ander Christenvriende wat daarvan geweet het, het moeite gedoen om hom te probeer oor­reed om sy hart vir die Here oop te maak. Sy het self by hom gepleit en saam met hom gebid om Christus aan te neem as sy Saligmaker. Een aand het hy vir haar gesê: “My vrou, jy weet van my posisie in die staatsdienskom­missie. Ek het ’n saak wat ek daar moet deurvoer. As ek nóú ‘n Christen word sal ek dit nie kan doen nie, want dit is nie heeltemaal skoon nie. Maar ek kan nie uitdraai nie. Ek het nie ’n keuse nie. As dit verby is, gaan ek my be­keer en Christus as my Saligmaker aanneem.” Hy en sy kommissie het die skema suksesvol deurgevoer. Toe voeg die vrou woorde by wat Pierson laat skryf het: “It is one of the saddest stories I have ever heard”. Die vrou se woorde was: “From that day he had never apparently had any desire to be a child of God.”

Hebreërs 10:26 beskryf die situasie van:  “…as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het…” Dan vra vers 29 die vraag: “…hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade ge­smaad het?”  Die woorde van verse 30 en 31 is bedoel as antwoord op hierdie ernstige vraag: “Want ons ken Hom wat gesê het: ‘My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here;’ en weer : ‘Die Here sal sy volk oordeel.’ Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.”

As daar in ’n mens se hart die geringste ontwaking van vrees vir God se oordeel en ’n verlange na God se vergifnis vir ’n mens se sonde ont­staan, is dit ’n te­ken van die werking van die Heilige Gees in ons hart en ’n roeping om na God toe te kom. Met so iemand praat vers 35: Werp dan julle vrymoedig­heid, wat ’n groot be­loning het, nie weg nie.” God se lief­de vir die sondaar, Christus se offer aan die kruis en die werking van die Heilige Gees in ons hart, gee ons hierdie vrymoedigheid, om net soos ons is na die Here toe te vlug vir vergifnis en redding. “…sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Kyk nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding….” (2 Kor.6:1,2). Jesus waarsku die Fariseërs: “Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroor­deel” (Joh.12:48).

 “Here, vandag stel ek nie weer uit nie. Ek kom na U toe.”