Ingeskryf in die hart

Lees 2 Korintiërs 3:1-6

“…julle (is) ’n brief van Christus…geskrywe, nie met ink nie maar met die Gees van die lewende God, …op die harte van mense” (3)

In Lahore, Indië, het Christene Nuwe Testa­men­te onder die mense van die stad versprei, ver­tel Good News. Hulle wou agter op elke Nuwe Testament wat hulle uitgee die woorde van Mat­teus 11:28 aanbring: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Hiervoor het hulle ’n rubberstempel nodig gehad, maar ’n stem­pel met daardie woorde op was onverkrygbaar. Daar was net een raad: hulle moet so ’n stempel laat maak. Hulle het vir een van Lahore se stem­pel­makers, ’n Moslem, verduidelik wat hulle verlang en vir hom ’n Nuwe Testament gegee, sodat hy presies kon weet hoe om die stempel te maak. Hy was ’n bedrewe vakman en hulle was baie tevrede met die stempel wat hy na ’n paar dae vir hulle gebring het. Hy wou nie vergoeding vir sy werk neem nie. “Ek het die boek wat julle vir my gegee het gelees, want ek wou sien hoe die mooi woorde op die stempel by die boek inpas,” vertel hy. “Na ek die boek deurgelees het, en gesien het die woorde staan in daardie boek, het ek begin om die woorde in die rubber in te sny.” Met ’n breë glimlag vervolg hy: “Terwyl ek die woorde in die rubber insny, het God dit in my hart ingesny. Ek het na Jesus toe ge­kom, soos die boek sê, en nou weet ek ek is ook ’n Christen.”

Die woord van God word in ons Bybels met druk­kersink op papier geskryf. Ons lees dit en ver­staan die woorde met ons verstand. Maar iets meer gebeur. Terwyl ons sy gedrukte woord lees of daar­na luister, skryf die Heilige Gees daardie boodskap in ons hart. Ons lees in Handelinge 16 hoe Paulus in Filippi aan ’n groep vroue die evangelie verkon­dig het. “Lidia, ’n purperver­koop­ster…het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is” (Hand.16:14). Ons kennis van die evangeliewoord is meer as net verstandsbegrip. Dit word innig deel van ons hart. “Ek sal my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees” (Heb.8:10). As ons God se woord lees en begryp, werk God in ons hart om dit in ons gestalte te gee.

“Here, vandag open ek my hart vir u inskrywing.”