Hoor en Antwoord

Lees 1 Petrus 3: 8 – 12

“Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, daartoe is julle geroep…” (9).

In die Benonigemeente se maand­blad van Fe­bruarie 1973, het ek destyds, toe ek daar predikant was. ‘n kinder­like storietjie geskryf. Ek lees dit  nou die dag weer en weer tref dit my. In Spreuke skryf Sa­lo­mo presies wat in die storietjie gebeur.

Martie se ouers het op ‘n plaas wat met berge om­ring is, gaan woon, begin die storie. Sy het die werf en verderaan gaan ver­ken en in ‘n kloof afge­kyk. Bruisend van le­wens­lus, gooi sy haar arms in die lug en roep: “Haai!” Tot haar groot ver­ras­sing hoor sy ‘n dogter­tjie roep te­rug: “Haai!” “Wat is jou naam?” skreeu Martie. “Wat is jou naam,” kom die stem terug. “Ek het eeeerste gevra,” skreeu Martie weer. “Ek het eeeer­ste gevra,” antwoord die stem. “Jy’s ‘n nare kind!” roep Martie boos. “Jy’s ‘n nare kind,” kom die stem boos terug. Martie huil van woede. Sy hard­loop huis toe om by haar ma te gaan kla. Haar ma besef da­delik dit is die ego (weerklank) in die kloof. Martie hoor haar eie stem. “Gaan nou weer,” sê haar ma. “Praat vriendelik en jy sal hoor hoe vriendelik antwoord sy jou terug.”

Salomo skryf in Spreuke: “Haat verwek twis; lief­de kan enige aanstoot oorsien” (10:12). “’n Sagte ant­woord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam” (15:1). “Kalmerende woorde bring lewe, skyn­heilige woorde breek mense” (15:4). “’n Humeurige mens soek skoor; ‘n ver­draag­­same mens maak rusies uit die wêreld” (15:18). Aange­name woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens” (16:24).

 “Here, vandag wil ek aangenaam met ander praat.”