SKRIFDEEL: Kolossense 2: 6 – 15
“In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid” (9).
Marvin Bauer vertel die legende van drie groot bome wat in die woud gestaan het. Elkeen het ’n eie ideaal gehad, vir die dag wanneer hy afgekap word. ’n Belangrike vraag word hiermee geantwoord. Wat bring waarde in ’n mens se lewe?
Die een boom het verlang om vir ’n sierlike paleis gebruik te word en só beroemd te word. Die tweede een wou vir ’n groot skip gebruik word en só roem verwerf. Die derde een wou bly staan net waar hy is, bo al die bome uitgroei en opwys na God toe en bewonder word. Op ’n dag het die houtkapper gekom en die eerste een afgekap. Die hout is gebruik om ’n stal mee op te rig. Die tweede een is afgekap en gebruik om ’n vissersboot mee te bou. Die derde is afgekap en is gebruik om ’n kruis mee te maak. Hierdie wending, anders as hulle eie beplanning, het die drie bome onvergeetlik gemaak. Die Koning van die Hemel, Jesus, is in die stal gebore en sy warm lyfie het op die plank van die boom, waarmee die krippie gemaak was, gelê. Jesus, die Meester van die hemelse koninkryk, en sy dissipels, het in die vissersboot op die see gevaar, en Jesus se voete het direk getrap op die hout van die tweede boom. Jesus, die Verlosser, is vasgeslaan aan die derde boom se balke en sy bloed het oor dié boom se hout gevloei.
Hierdie drie bome se geskiedenis het geseënd en vir hulle ten goede verander, omdat die Here Jesus ingetree het. Elkeen se ideaal vir ’n nuttige lewe is vervul, maar anders en hoër as wat hulle dit ooit vir hulleself sou kon bewerk Wanneer Jesus in ’n lewe intree, vul Hy die hart met volheid van lewe en bevrediging: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê… in oorvloed”(Joh.10:10).
Oor die verlore seun het iemand daaraan gedink dat die seun weggegaan het, want hy het deftige klere en egte leerstewels begeer, juwele vir sy vingers, goeie kos, plesier. Die ver land het treurig in sy verwagtinge misluk. Toe kom hy terug, en wat kry hy by sy pa: “Bring klere, die beste…en skoene … bring ’n ring vir sy vinger…bring die vetgemaakte kalf…laat ons feesvier…Toe het hulle begin feesvier” (Luk.15:22). Die vervulling van die diep behoeftes van die menslike hart word in ons ewige God gevind. Ontmoet Jesus en word ryk in u siel!
“Here, vandag draai ek weg van die wêreld af na U toe.”