'n Goeie Adres

Lees Psalm 43: 1 – 5

“Stuur u lig en u waarheid dat dié my kan lei en my bring na u heilige berg, na u woning!” (3).

In Londen, naby St. Paul’s, is `n straat met die naam Godliman Street, vertel dr. F. B. Meyer. Die ligging van die straat, naby so `n groot, bekende kerk, kon dalk die rede vir die naam gewees het. Of, daar het dalk `n besonder toegewyde man ge­woon, want die naam is van die Engelse woord, godly man, afgelei. Hoe voel die mense, veral die mans, wat in daar­die straat woon? Kan dit dalk `n verleëntheid wees as mens vir `n ander moet sê: “Ek woon in Godsmanstraat?” Pas die mense wat daar woon, se lewensgedrag by die straat se naam? Voel iemand dalk hy sal ontuis voel in so `n straat? Ons moet onthou, in die hemelstad, gaan al die name van die strate so `n naam hê. In die hemel sal net mense, wat aan die Here behoort, woon.

Voel u dalk onseker oor u plek in so `n he­mel­stad ­se straatnaam? “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe. Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam, geskrywe staan” (Op.21: 22,27).

Ons moet baie seker maak, dat ons ons toe­gangs­­reg tot die hemel verkry het, deurdat ons in Jesus Christus, as ons Verlosser, vertrou het. Van alle dinge op aarde is dit die belangrikste voorsorgsmaatreël vir ons. Dít maak ons God se mense. Dan kan ons in God se stad woon.

“Here, vandag ondersoek ek my hart om seker te maak, ek het U as Verlosser aangeneem.”