Vrede in die hart

Lees Romeine 12: 9 – 218

“As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (18)

Rondom die werk van die skilder, Leonardo da Vinci, toe hy met sy beroemde skildery, Die Laaste Avondmaal, besig was, word verskillende insi­dente, wat geestelike waarhede vertolk, vertel. In die afgelope twee jaar het ek ‘n paar daarvan ge­bruik (en dit is ‘n versoeking om dit weer te herhaal, want vir myself is dit so mooi), maar hierdie volgende een dink ek is dalk nog onbekend.

Da Vinci was besig om in sy groot werk, Die Laaste Avondmaal, die Persoon van Jesus, en juis sy gelaats­trekke, te skilder toe hy en ‘n vriend van hom ‘n on­der­on­sie gehad het. In sy ergerlikheid het die skilder vir sy vriend ‘n paar baie onvriendelike en lelike dinge gesê. Hy het selfs sy vriend met wraak gedreig. Hy het na sy werk, die skil­dery,  toe teruggegaan en wou voortgaan om Je­sus se gesig te skilder. Hy kon egter nie vorder nie. Sy innerlike ontstemdheid het dit vir hom net onmoont­lik gemaak, om die trekke van teerheid en liefde op Jesus se gesig na vore te bring. Hy het opgestaan en sy vriend gaan soek en hom nederig om vergif­nis gevra. In sy hart het kalmte gekom. Hy het teruggegaan na sy taak toe en nou kon hy die teer en sagte uitdrukking op Jesus se gesig aanbring.

Ons as Christene in hierdie wêreld moet Jesus se Per­soon, by wyse van ons daag­likse lewe en woor­de van ons getuienis, na vore laat kom. Deur ons lewe moet ander Hom leer ken, en hiervoor is nodig ‘n binneste, ‘n hart, wat self vrede het. Jesus se laaste woorde aan sy dis­sipels was: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor jule kom, en julle sal my getuies wees…” (Hand.1:8). Die Heilige Gees bring die Persoon van Jesus, as ons inwo­nende Here in ons hart, in ons gedrag en gesindhede na vore.. As ons hart eg­ter ontstig is deur allerlei dinge – rusies, geskille met ander, nydig­heid, kwaai woorde, kwaadpraat – kan Jesus nie deur óns lewe aan ander oorgedra word nie.

“Here, vandag wil ek met vrede in my eie hart vir U ‘n getuie by ander wees.”