Rykdom in die Bybel

Lees Kolossense 1: 24 – 29

“Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heer­likheid. Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring’ (27,28).

In 1874 het die tante van Steven Marsh vir hom haar huis en haar familiebybel nagelaat, vertel Faithful Words. Nadat die begrafniskoste en ander agterstallige skuld be­taal is, het hy net ’n paar honderd dollar uitgekry. Hy het vir 35 jaar in re­latiewe armoede uit ’n klein staats­pen­sioen geleef. Uiteindelik het die armoede vir hom teveel geword en hy besluit om vir sy laaste jare by `n seun van hom te gaan woon. Die dag toe hy inpak neem hy die vergete Familiebybel in sy hande om dit in sy trommel te sit. Uit nuuskierigheid knip hy die koperknippe oop en slaan die Bybel oop. Ver­stom rus sy oë op ’n groot dol­lar­noot wat tussen die eerste twee blaaie ingevou is. Hy blaai verder. Oral, dwarsdeur die dik Bybel, kry hy dol­lar­note tussen die blaaie – altesaam $5 000. In daardie jare `n ontsaglike som geld. Ek haal Faithful Words aan: “He lived in poverty, and all the time within his reach there was the precious Bible containing thousands of dollars, sufficient for all his wants. He passed the Bible by. His eyes rested on it, perhaps his hands handled the old leather-bound Bible, with its brass clasps, but he did not open it once”. Watter spyt moes daar nie in sy hart gewees het nie. Hoe anders sou sy lewe gewees het as hy die Bybel net een keer oop­gemaak het!

Dit is `n lewensarmoede om die Bybel te ver­waar­loos. In hierdie bekende Boek, wat omtrent deur elk­een van ons besit word, het God vir ons ’n kosbare skat gegee. God praat self met ons in die Bybel, vertel ons van sy genade, sy liefde, sy ewige rykdom wat Hy vir ons wil gee. “…laat God julle verander deur julle denke te vernuwe…” (Rom.12:2). Hy doen dit deur sy Woord. “…saam strewe na diep en volledige insig sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en ken­nis te vind” (Kol.2:2). Aan die gemeente Laodisea sê Jesus: “Daarom raai ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere sodat julle julle kan aantrek en julle.. naaktheid nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer sodat julle kan sien” (Opb.3:18). Deur ons omgang met die Here deur sy Woord kom ons in besit van hierdie rykdomme.

Faithful Words sluit sy vertelling só af: “Oc­casionally we receive letters from aged Chris­tians to tell us how they deplore the fact that they did not know certain truths thirty or forty years ago. And all this time these riches were in their Bible, they might have enjoyed them. Oh, the neglected Bible! May we arise and possess our possession.

“Here, vandag lees ek u Woord.”