Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7
“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou… die dag van redding” (2).
Die gevangeniskapelaan moes ’n sterwende, maar berugte sakkeroller, in sy tronksel, in sy laaste lewensoomblikke bystaan. Hy het ernstig en dringend met hom gepraat en die weg van saligheid probeer verduidelik. Hy beklemtoon God se groot liefde vir sondaars en Jesus se lyding en sterwe aan die kruis: “So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkéén wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16). Hy pleit met die man, om soos die moordenaar aan die kruis, in hierdie laaste oomblikke van sy lewe, by Jesus redding te vra: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom” (Luk.23:42). Die hele tyd hou die man sy oë stip op die kapelaan gevestig. Hy kniel by die man en bid vir hom. Toe hy weer regop kom, was die man dood. Tussen die vingers van sy regterhand, hang die goue ketting van die leraar se sakhorlosie. In hierdie belangrikste moment van sy lewe, was sy verharde hart nie by wat die dominee vir hom oor die ewigheid probeer sê nie, maar by die lokkende goue ketting aan die dominee se sy.
’n Stukkie statistiek uit Richardsbaai se 1981 gemeenteblad: Meer as 2¼-biljoen mense leef op aarde. Elke jaar sterf 50 mil. Elke maand sterf 4 166 466. Elke dag sterf 136 986. Elke uur sterf 5 707. Elke minuut sterf 95. Elke sekonde sterf 2. Dit het u dalk 10 sekondes geneem om die paragrafie tot hier te lees: 20 mense het in die 10 sekondes gesterf. Oor ’n uur kan daar meer as 5 000 mense, wat op hierdie oomblik nog leef, dood wees.
Ons mag nie in die laaste sekonde, wat ons nog leef, ongered wees nie, want dan wag ’n ewigheid van smart vir ons. Weet ú al Jesus is u Verlosser? As u twyfel of nee antwoord, gebruik hierdie sekonde om uit u hart te roep: “Here Jesus, red my!” En ’n ewigheid in die hemel word u deel.
“Here, vandag gryp ek u redding vas.”