Lees Psalm 71: 12 – 24
“Ek sal jubel as ek tot u eer sing, omdat U my gered het. Ek sal die hele dag praat van u verlossingswerk…” (22-23)
Dr. A. J Gordon was jare gelede leraar van ’n kerk in Boston. Voor die kerk loop hy op ’n dag ’n seuntjie raak wat ’n geroeste en verwaarloosde voëlkou dra. In die kou fladder `n paar klein voëltjies rond asof hulle weet hulle gaan doodgemaak word. “Seun, waar kry jy daardie voëls?” vra Dr. Gordon vir die seun. “Ek het hulle in die veld gevang,” antwoord die seun. “Wat gaan jy met hulle doen?” vra die leraar. “Ek neem hulle huis toe om met hulle te speel.” “En as jy klaar met hulle gespeel het?” “O,” antwoord die seun met ’n skouerophaling, “dan voer ek hulle seker maar vir ons kat.” Dr. Gordon vra hom vir hoeveel hy die voëltjies en die koutjie aan hom sal verkoop. Die seun antwoord: “Meneer, wil jy hulle regtig hê? Dis net gewone veldvoëtjies. Hulle kan nie eers sing nie.” Dr. Gordon bied ’n redelike prys aan. “Goed,” sê die seun dadelik, “maar Meneer maak ’n slegte koop.” Fluitend loop die seun weg en Dr. Gordon neem die koutjie met voëltjies na die kerk se agtertuin toe. Hy maak die koutjie oop en die voëltjies vlug dadelik uit en styg luid singende in die lug op.
Die volgende Sondag neem Dr. Gordon die leë koutjie preekstoel, toe as illustrasie vir sy preek. “Daardie seun het gesê hulle kan nie sing nie,” sê hy na hy vir die gemeente vertel het hoe hy aan die koutjie kom. “Maar ek wens hy kon hulle hoor sing toe hulle die lug in vlieg. Dit het vir my geklink hulle sing: ’Vry, vry, vry.’”
So is dit in die hart van die verloste sondaar. Soms is ons lied dof, want ons begryp nog nie watter prys vir ons betaal is nie en van watter aaklige dood ons vrygekoop is nie en watter heerlike ewigheid vir ons voorlê nie.
Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het, sing dankbaar my verlossingslied.
U weet hoe ek na U verlang het – U het u guns my aangebied.
Ek loof en prys U deurentyd, en roem u groot barmhartigheid.
“Here, vandag loof ek U uit my hart uit.”