O, daardie een woord

Lees Romeine 6: 19-23                                              

“… die dinge waaroor julle nou skaam kry  … die uiteinde van dié dinge is die dood. Maar nou  -  julle is vrygemaak van die sonde … en die uiteinde is die ewige lewe” (21,22).”

Ek wou die Saterdagmiddag geniet. Die opge­won­­den­heid van die perdewedren wat aan die gang was, het deur my gejaag. Rondom my was skreeuende en gil­lende mense, besig om hul perd aan te moedig. Skielik het ek `n plukkie aan my baadjie gevoel. Ek het om­ge­draai en in `n jong­man se gesig vasgekyk. Hy het nader getree en een woord in my oor gefluister: “Ewigheid.” Ter­selfdertyd het hy `n blaadjie in my hand gedruk. Wat `n vreemde opmerking, het ek gesteurd ge­dink Ek het besluit om dit eenvoudig te ignoreer. Ek kon nie `n asblik sien nie en het die blaadjie in my sak geprop. Die wedren was nog aan die gang en ek het my aandag daarop probeer vestig. “Ewigheid!”  Ek het die perde vir die vol­gen­de wedren bestudeer en op een gewed. “Ewigheid!”

Slegs `n maand te vore het `n vriend van my skielik ge­sterf. Ek het nou aan hom gedink. Hy is nou in die ewig­heid. Ek weet dat as hy nog geleef het sou hy vanmiddag saam met my by die ren­baan gewees het. Maar hy was vanmiddag in die ewigheid. Die ewigheid is net `n haar­breedte ver. Dit kos nie veel om die skeidslyn tussen tyd en ewigheid oor te steek nie. Ek het benoud begin voel. Die wedren se uitslag het skielik vir my onbelangrik geword. “Ewigheid!”

Ek het my huistoe gehaas en die blaadjie wat die man gegee het, begin lees. God het my lief, het ek so onder die lees deur ontdek. Hy wil nie hê dat ek ewig verlore moet wees nie, maar dat ek ewig salig sal wees. Hy het sy eie Seun, Jesus Christus, my sondestraf laat dra aan die kruis. Hierdie inligting het ek geken, want ek is ook `n soort van kerkmens. Dit het nou egter vir my skie­lik `n nuwe waarde gekry. Jesus het aan die kruis gesterf, so­dat ek in die ewigheid gered kan wees. `n Bekende teks word aangehaal: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun ge­gee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16).

Ek het dit verstaan en ek het dit geglo. Ek het by my bed gekniel en met `n eenvoudige gebed Jesus Christus as my Verlosser aangeneem en sy ver­soenings­dood vir my toegeëin. Ek het `n rustige man gaan slaap. Ek het uit die dood in die lewe oorgegaan.



“Here vandag ken ek U as my Verlosser en ek lê met nuwe toewyding my aan u voete neer.”

Of: ?

“Here, vandag is ek onseker oor die ewigheid, want ek het dit nog nie `n uitgemaakte saak in my lewe gemaak nie. Maar ek wil nie ewig verlore gaan nie. Ek maak nou my hart oop. Ek glo u kruisdood was vir my, in my plek. Ek neem U aan as my Verlosser.”