Lees Romeine 6: 19-23
“… die dinge waaroor julle nou skaam kry … die uiteinde van dié dinge is die dood. Maar nou - julle is vrygemaak van die sonde … en die uiteinde is die ewige lewe” (21,22).”
Ek wou die Saterdagmiddag geniet. Die opgewondenheid van die perdewedren wat aan die gang was, het deur my gejaag. Rondom my was skreeuende en gillende mense, besig om hul perd aan te moedig. Skielik het ek `n plukkie aan my baadjie gevoel. Ek het omgedraai en in `n jongman se gesig vasgekyk. Hy het nader getree en een woord in my oor gefluister: “Ewigheid.” Terselfdertyd het hy `n blaadjie in my hand gedruk. Wat `n vreemde opmerking, het ek gesteurd gedink Ek het besluit om dit eenvoudig te ignoreer. Ek kon nie `n asblik sien nie en het die blaadjie in my sak geprop. Die wedren was nog aan die gang en ek het my aandag daarop probeer vestig. “Ewigheid!” Ek het die perde vir die volgende wedren bestudeer en op een gewed. “Ewigheid!”
Slegs `n maand te vore het `n vriend van my skielik gesterf. Ek het nou aan hom gedink. Hy is nou in die ewigheid. Ek weet dat as hy nog geleef het sou hy vanmiddag saam met my by die renbaan gewees het. Maar hy was vanmiddag in die ewigheid. Die ewigheid is net `n haarbreedte ver. Dit kos nie veel om die skeidslyn tussen tyd en ewigheid oor te steek nie. Ek het benoud begin voel. Die wedren se uitslag het skielik vir my onbelangrik geword. “Ewigheid!”
Ek het my huistoe gehaas en die blaadjie wat die man gegee het, begin lees. God het my lief, het ek so onder die lees deur ontdek. Hy wil nie hê dat ek ewig verlore moet wees nie, maar dat ek ewig salig sal wees. Hy het sy eie Seun, Jesus Christus, my sondestraf laat dra aan die kruis. Hierdie inligting het ek geken, want ek is ook `n soort van kerkmens. Dit het nou egter vir my skielik `n nuwe waarde gekry. Jesus het aan die kruis gesterf, sodat ek in die ewigheid gered kan wees. `n Bekende teks word aangehaal: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16).
Ek het dit verstaan en ek het dit geglo. Ek het by my bed gekniel en met `n eenvoudige gebed Jesus Christus as my Verlosser aangeneem en sy versoeningsdood vir my toegeëin. Ek het `n rustige man gaan slaap. Ek het uit die dood in die lewe oorgegaan.
“Here vandag ken ek U as my Verlosser en ek lê met nuwe toewyding my aan u voete neer.”
Of: ?
“Here, vandag is ek onseker oor die ewigheid, want ek het dit nog nie `n uitgemaakte saak in my lewe gemaak nie. Maar ek wil nie ewig verlore gaan nie. Ek maak nou my hart oop. Ek glo u kruisdood was vir my, in my plek. Ek neem U aan as my Verlosser.”