Lees 2 Korinthiërs 5:18-21 Ou Vertaling
“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (21).
‘n Man, ‘n toegewyde Christen, wou ‘n dokter in `n buitepasiënte afdeling besoek. In die wagkamer sit ‘n lang ry mense en wag. Elke keer as iemand ingeroep word, skuif die ry een sitplek op. Hy gaan ewe getroos op die laaste oop stoel sit en wag sy beurt af. Later is hy heelvoor in die ry en dit is sy beurt om volgende by die dokter in te gaan. Net toe gaan die deur oop en ‘n vrou, sigbaar siek, kom binne. Sy kreun. “Ag! Laat ek tog asseblief eerste ingaan. Ek voel ellendig,” sê sy vir hierdie man wie se beurt dit nou is om in te gaan. “Sekerlik,” sê hy hartlik en staan op. Sy gaan sit op sy stoel. Juis op daardie oomblik roep die verleegster, “Volgende, asseblief!” Dankbaar gaan die vrou by die dokter se spreekkamer in. Die man wil weer op daardie voorste stoel van hom gaan sit. Maar iemand sit reeds daar. Die hele ry het reeds een stoel opgeskuif. Hy wou protesteer, maar iemand van die wagtendes roep: “Jy het jou eerste plek vir haar gegee en nou moet jy haar laaste plek vat.” ‘n Goedige “Hoor! Hoor!” klink op. Die man glimlag gedwee en gaan ewe getroos weer op die laaste oop stoel sit.
“Julle is reg, vriende,“ sê hy. “Ek het my goeie plek vir haar gegee en dis net reg, as ek haar slegte plek inneem. Weet julle, dit is presies wat die Here Jesus vir ons gedoen het. Hy het sy goeie plek as Kind van God en Erfgenaam van die hemel vir ons gegee. Toe het Hy ons slegte plek as verlore en skuldige sondaars kom inneem. In ons plek het Hy onder die toorn van God aan die kruis gesterf, sodat ons, onder die genade en goedheid van God, nie gestraf hoef te word nie en sy plek in die hemel kan inneem.”
“Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom … Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel” (Kol.1:21-23).
“Here, dankie U het my slegte plek ingeneem en my in u goeie en geseënde plek geplaas.”