Geen Skuiling

Lees 1 Korintiërs 6: 9 – 11. (Nuwe Lewende Vertaling)

Julle is vry­ge­spreek­te men­se op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het” (11).

Sommige van die Isle of Wright se kuste is vol grotte. ’n Man se geraamte is in een van hierdie grot­te gevind. Hy was ’n prisonier wat ontsnap het. Hy het in die grot geskuil met die hoop hy sou saam met een van die skepe wegkom. Die goeie geleentheid het nooit gekom nie. Hy kon nie waag om uit te kom nie. Sy krag het al minder geword. Sy lot was aaklig. So het hy eensaam gesterf. Hy het wel skuiling gevind, maar dit was ‘n bedrieglike en noodlottige skuiling.

Mense verlaat hulle soms ook op ’n be­drieg­like en ty­delike skuiling, bv. leuens of be­drog. ’n Kos­ba­re lewe word geslyt in die ge­­vaarlike skuiling van oneerlikheid. ’n Be­droewende skuiling is ook die on­eerlike voorgee van Christenskap, om in kerklike kringe aanvaarbaar te wees, maar daar was nooit ware bekering en ont­moeting met Christus nie. Nog ’n gevaarlike weg­kruipplek is nuwe gods­diens­beskouinge, omdat dit ’n mens se lewenstyl beter pas. Dit laat ruimte vir sondi­ge prak­tyke. Die be­drieg­likste skuilplek is on­kunde, wat jou met jouself tevrede laat voel, maar jou ewige sieleheil is in ge­vaar. Die Nu­we Lewende Vertaling van die Bybel gebruik in 1 Korintiërs 6:9 ’n bekende woord aan men­­se, wat tevrede voel om steeds met sondige prak­­tyke voort te ­gaan: Moenie julleself bluf nie. Die sin word voorafgegaan met hierdie waarsku­wing: Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie?

Ons het net één betroubare, blywende, wa­re skui­ling: Die kruisdood van Jesus vir ons, en, ás ’n mens by daardie skuiling ingegaan het.

Jesus, Rots, vir my geslaan, laat my nie verlore gaan!

U was self van God verlaat, laat u lyding, sonder maat,

My tot heil wees en tot krag teen die sondeskuld en mag.

Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas.

Ek kom vergewing vra; U het ook my skuld gedra!

U, geslaan tot heilsfontein, was my, Heiland, maak my rein!

“Here, vandag kom ek in U skuil.”