Die Geheim van Krag

Lees Handelinge 1: 1 – 8

“… julle sal krag onvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem…tot in die uithoeke van die wêreld” (8).

Die beroemde Bostonse leraar, dr. A. J. Gor­don, het die wêreldskou in Chicago besoek, skryf Robert L. Sumner in sy boek Biblical Evangelism. Gordon is getref deur die krag en energie van ’n man, in helder Oosterse drag, wat sonder om te rus of sy gemaklike aksie te verminder, ure lank ’n pomp se slin­ger draai en daardeur ’n dik stroom wa­ter laat uit­spuit. Gordon gaan nader om die man van na­­der­­by te beskou. Verbaas sien hy die man is van hout gemaak. Dit is nie hy wat die pomp draai en die water laat spuit nie. Dit is die wa­terstroom wat die pomp draai en dít hou die man aan die gang. Sumner maak sy gevolg­trek­king: “Thus it is with those in the Lord’s work. It isn’t our efforts for Him that achieve the results. The flowing river of the Holy Spirit, channeled through our lives and lips, keeps us going and yields infinite results through our ministries.”

Ons voel swak, word moeg, gee moed op, maar ’n groter krag as ons eie krag, hou ons aan die gang, om die Here se werk te doen. Die Here sê vir Paulus, toe hy onder groot beproewing verkeer  “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor.12:9). Aan die Efesiërs skryf Paulus: “Ek bid dat Hy deur sy Gees … aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word… (Ef.3:16). En vir die Ko­los­sense bid hy: “Mag God…jul­le versterk en …die krag gee om in alle omstandighede met geduld te volhard” (Kol.1:11). By sy hemelvaart sê Jesus vir sy dissipels: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom…julle sal my getuies wees…(Hand.1:8).

“Here, vandag maak ek staat op u krag in my.”