Die Belangrikheid van Gebed

Lees Eksodus 17:8-17

“Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, wanneer sy hand sak…, die Amalekiete” (11)

Dr. Torrey vertel van ’n dorpie waar die kerke nie gevorder het met die uitbreiding van die Here se koninkryk nie. Toe kom daar ’n wending. Binne een jaar het nagenoeg 200 mense tot bekering gekom. Het daar ’n nuwe dominee gekom? Nee. Is daar ‘n evangeliese veldtog gehou? Nee. ’n Paar toegewyde lidmate het bekommerd geraak oor die geestelike toestand in hulle dorp en het  op gereelde tye begin saamkom om te bid vir hulle eie en vir hulle dorp se geestelike vernuwing. Soms word baie vir die Here gedoen, maar daar word nie so baie gebid nie. Sonder gebed ly ons neerlaag en die vrug op ons werk ontbreek.

Om te bid, is ’n taak wat meer toewyding van ons eis, as om vir die Here te werk. Israel het ge­wen solank Moses sy hande opgehou het, want Amalek was sterker as Israel. Die ophou van Moses se hande, sy intree vir Israel by God, het die verskil gemaak. Ons lees nie dat Josua en sy krygsmanne moeg geword het nie. “Maar Moses se arms het begin moeg word …”(12) Ons vyand, die Satan, en die wêreld, is sterker as ons. Hy is nie bang vir wat ons vir die Here doen nie. Hy vrees ons gebede. Hy sal alles in sy vermoë doen om die kinders van die Here van hulle knieë, van gebed, af weg te hou. In die sendbriewe word die gelowiges gedurig aangemoedig om te bid, omdat dit so belangrik is en omdat dit so veeleisend is om te bid.  Gebed, voorbidding, is geseënde en vrug­bare werk vir die Here. “Ek versoek julle dan dringend …Stry saam met my deur vir my te bid (Rom.15:30); … bid gedurig vir al die gelowiges. Bid ook vir my …(Ef.6:20); Bid gedurig … bid ook vir ons …(1Tes.5:17,25); …bid vir ons …(2Tes.3:1); …hou aan vir ons te bid…(Heb.13:18).”

Gereelde, volhardende gebed verg geestelike dissi­pline. Dr. W. E. Sangster sê: “As ons bid as ons daarna voel, behaag ons onsself …maar as ons bid ook as ons nie daarna voel nie, dan bring ons na God toe nie net die in­houd van ons gebed nie, maar ’n gedis­si­plineerde gees: ons het teen ons neiging (of ons gerief) in ons af­spraak met Hom gehou.”

“Here, ek bid vandag, brei U koninkryk in hierdie wêreld uit.”