SKRIFDEEL: Psalm 121
“Die Here beskerm jou” (5)
Dr. Tony Campolo skryf in sy boek A Dreamer for the Kingdom, hy het opgegroei in ’n digbevolkte, besige stad. Sy ma het ’n tienderjarige dogter, wat naby hulle gewoon het en ook skool toe moes loop, gevra om teen ’n nickle a day haar oog oor hom te hou, as hy skool toe en terug loop. Die skool was agt blokke ver en hulle moes verskillende besige strate kruis om by die skool te kom. In sy tweede skooljaar het Tony opstandig en onwilllig geraak om elke dag saam met die buurdogter moet skool toe te stap. Hy wou alleen loop. “Ek kán alleen loop. Ek belowe, ek sal baie versigtig wees,” het hy gesoebat. Uiteindelik het sy ma toegegee. Vir die volgende twee jaar het Tony self skool toe en terug gestap. Hy was baie versigtig. Hy het nie met vreemdelinge gepraat of nuuskierig agter ander dinge aangegaan nie. Jare later, by ’n familiesamekoms, het hy grootgepraat oor sy onafhanklikheid en sy familie herinner aan sy selfstandigheid, toe hy as klein seuntjie die moeilike pad skool toe alleen geloop het. Sy ma het gelag. “Dink jy regtig jy was alleen?” vra sy. “Elke oggend as jy skool toe loop, het ek jou gevolg tot jy veilig by die skool aangekom het. Elke middag as die skool moet uitkom, het ek vir jou buite gewag, maar so, dat jy my nie sou sien nie. Dan het ek weer agter jou aangeloop tot ons by die huis gekom het. Ek wou naby jou wees, as jy in daardie besige strate my sou nodig kry.”
Glo ons die Here is elke dag naby ons, terwyl ons deur 2017 stap? Kom ons glo dit. Jesus het sy dissipels belowe: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20). In die Here se Woord is God se nabyheid by ons ’n voortdurende belofte: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (9).
“Here, vandag glo ek U is naby my.”