n Sakeman, Allen Emery, was in die wolbedryf. Eenkeer het hy ‘n nag saam met ’n herder en sy skape op die Texasprêrie deurgebring, skryf Robert J. Morgan in This Verse. Skielik, in die middel van die nag, klink die lang gehuil van die prêriewolwe op. Die skape wat gelê en slaap het, kom verskrik met ’n jammerlike geblêr op die been. Die herder staan vinnig op en gooi meer hout op die vuur. Die vuur vlam vinnig op. In die gloed van die vuur kyk Allen om hom rond. In die donker vonkel duisende liggiesl. Hy besef dit is die weerkaatsing van die vuurlig in die skape se oë. Hier is Allen se eie opmerking hieroor: “In the midst of danger the sheep were not looking out into the darkness, where the coyotes were wailing, but were keeping their eyes set in the direction of their safety, looking toward the shepherd.”
Ons ken ook vrees – al wys ons dit nie altyd nie. Allerhande wolwe huil daar buite en bedreig ons. Jesus se vergelyking van ons, met ’n herder se kudde, is baie vertroostend. Ons is deel van sy kudde as ons in Hom as ons Verlosser vertrou. En Hy is ’n getroue en betroubare Herder. Hoe gelukkig is ons nie! Ons het ’n getroue en almagtige Herder wat ons bewaak. Ons is swak, maar ons skuil by Hom.
Hou die oë vertrouend op Jesus: “…die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins. En Hy sit nou aan die regterkant van troon van God. Hou Hom voor oë…dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Heb.12:2,3).
“Here, vandag kyk ek na U en ek skuil by U.”