Lees 1 Korintiërs 9: 19 – 27
“Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê” (23)
Die geestelike eindstreep, wenstreep, van die lewe waar elkeen van ons gaan uitkom, hang af van die kernfokuspunt van ons hart. Dr. Baldwin het sy lewensfokus so beskryf: ”Op 30-jarige ouderdom het ek al die filosofië en godsdienste van die wêreld ondersoek en geken. My gevolgtrekking was: Niks is beter as die evangelie van Christus nie. Toe ek 40 word en die laste begin op my druk, het ek gesê: Niks is so goed as die evangelie nie. Op 50, toe die stoele om my begin leeg raak, het ek gesê: Niks kan met die evangelie vergelyk word nie. Op 60, met my dieper insig en nader aan die einde, het ek gesê: Daar is niks behalwe die evangelie nie. En nou op 70, naby die einde en te midde van baie swakhede, sê ek: Daar is geen besitting soos die evangelie nie.”
Hoe ouer ons word hoe stewiger moet ons aan die beloftes van die evangelie vasklem. “…die evangelie is `n krag van God tot redding van elkeen wat glo…In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. ….Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hul glo, sal lewe” (Rom.1:17)
Archibald G. Brown het eens gesê: “Die evangelie is `n feit, verkondig dit dus eenvoudig; dit is `n blye feit, verkondig dit dus opgewek; dit is `n betroubare feit, verkondig dit dus met vertroue; dit is `n belangrike feit, verkondig dit dus ernstig; dit is `n feit oor `n Persoon, verkondig dus Jesus.
Wat genl. Grant oor die evanglie en die Here Jesus te sê gehad het, na sy bekering, is aangenaam om te hoor. Die predikant wat die beroemde man na die Here toe gelei het, het vir hom gesê: “U bekering is `n groot aanwins vir God se koninkryk, Generaal.” Genl. Grant het geantwoord: “God het nie groot manne nodig nie, maar groot manne het God nodig.”
“Here, vandag verbly ek my in u wonderbare evangelie.”