Klein en groot dinge

Lees       Matteus 16:13-20

“Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? …maar julle…wie, sê julle, is Ek?” (14)

William L. Stidger vertel in sy boek, There are Ser­mons in Stories, van die meisie, Sadie Smithson, wat eintlik arm grootgeword het in Johnsons Falls, Wes Virgiania. Haar pa was in beheer van ’n perdestal en sy­self het met naaldwerk ’n in­komste probeer maak. Hulle het net bo die armlas­ti­ge vlak geleef. Sy wou graag met die hoër klas van die dorp meng. Haar plan om dit reg te kry, was om lid te word van die Laurel Literary Society, ’n organisasie wat die sosiale glans van haar dorp weerspieël het. Na sy klaar was met hoërskool het sy aansoek gedoen vir lidmaatskap. Haar aansoek is afgekeur. Wel, het sy gedink, miskien sal hulle meer van haar dink as sy deur Europa gereis het. Sy het geld gespaar en ge­droom hoe die sagte handskoenhande sal klap, as sy haar lesing van My Toer deur Europa gelewer het. Na jare se spaar­saamheid het sy haar droom verwesenlik en saam met ‘n professor en sy vrou die toer aangepak.

Juis toe breek die Wêreldoorlog uit. Sadie was met die openingskote van die oorlog in België, maar kry reg om ’n rit Parys toe te kry. Die bestuur­der raak egter sy koers kwyt en skielik ry hul­le oor ’n slagveld. Sadie kyk af op’n gewonde soldaat wat  reg langs hulle voertuig lê. “Water!” skreeu hy. “In hemelsnaam, water!” Sadie spring uit die bussie uit en hardloop met ’n beker na ’n nabygeleë fontein en bring vir hom water. Toe roep nogeen vir water. Weer hardloop sy fon­tein toe. Die bussie vertrek sonder haar. Heel nag hardloop sy heen en weer tussen die fontein en gewonde sol­date. Sy skeur haar rok repe en probeer hulle wonde toebind. Sy skryf sterwende manne se boodskappe aan hulle dierbares neer. By elke man bid sy. Dit is ’n nag van skrik, en donkerte, en gekerm van gewonde soldate. ’n Ambulans met ’n dokter en verpleërs kom aan. Hulle is verstom om die arm jongvrou van West Virginia tussen die bloed en verwoesting van die oorlog te vind. In William Stidger se woorde roep die dokter uit: “Who are you? What in thunder are you doing here?” “I’m Sadie Smithson,” she said, “and I’ve beenholding hell back all night.” “Well miss Sadie Smithson,” said the young doctor, “I’m glad you held some of it back, for everybody else in the world was letting it loose last night.”

Terug huis toe, op die skip, vertel sy haar storie vir ’n medepassasier. “Ek het self nie kinders gehad nie, maar daardie nag was al daardie manne my kinders. Daardie nag kon ek my le­we vir hulle  gee,” voeg sy by. Die passasier antwoord: “Wel, ek dink die Laurel Literary Society sal nou bly wees om jou hulle lid te maak. Sadie antwoord, in Stidger se woorde: “No, I’ve been face to face with war and death and hell and God. Now little things like the Laurel Literary Soceity don’t matter to me any more.” “What does matter,” asked the friend. “Nothing,” Sadie said. “Nothing, but God and love  and doing what I can do for those He sends me to.”

Iets van die Here Jesus se gesindheid het daardie nag in Sadie se hart wakker geword, sodat klein wê­reld­se weeldes en eer vir haar niks­seggende waarde gekry het. Die Here Jesus het in die donker van die nag na ’n sterwende mens­dom toe gekom. Hy het ons liefgehad en Homself vir ons gegee. As Hy in ons hart kom woon, ver­ander ons perspektief van die lewe.

 “Here, vandag vra ek dat U my hart na u vlak ophef.”