Lees Johannes 6: 30 – 36
“Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee” (33)
‘n Aandoenlike storie uit die oorlogsjare, toe dorpe en stede hewig gebombardeer is, word deur Jill Caratinni, van International Ministries in Atlanta vertel. Duisende kinders is na sulke bomaanvalle dakloos en haweloos gelaat. Hulle is in vlugtelingsentrums gehuisves, gevoed en versorg. Die skrik van die bomaanval, die eensaamheid om nou sonder pa of ma te wees, die vrees om weer honger te ly, het egter so diep in hulle gemoedjies ingesny, die helpers by die hulpsentrums kon hulle nie genoeg gerusstel om snags te slaap nie. Die kinders het snags net beangs wakker gelê. Een aand gee een van die verpleegsters uit moedeloosheid vir so ‘n wakker kindjie ‘n brood om vas te hou. En wonderlik, toe sy weer by die kind verbykom, lê die oudjie met die brood in die arms vasgeklem, vas aan die slaap. Vir al die kinders word toe saans ‘n brood gegee om vas te hou en so het hulle rustig geword en weer geslaap. Jill skryf: “If they woke up frightened in the night, the bread seemed to remind them, ‘I ate today, and I will eat again tomorrow.’” Sy verwys na die nag toe Jesus verraai is. Hy het brood geneem, dit gebreek en vir sy dissipels, wat Hy so innig liefgehad het, gegee om te eet. Jesus verwys keer op keer in Johannes hoofstuk 6, o.a. verse 35, 48 en 51, na Homself as die brood van die lewe. Hieroor skryf Jill Caratinni: “Holding onto Him, like children with bread, we are given peace in uncertainty, mercy in brokenness, something solid when all is lost. In His severe mercy, we are invited to the table: ‘Come and eat.’”
“Here, vandag hou ek aan U vas. U is my brood van die lewe.”