Hou die naam skoon

Lees Openbaring 3:12-13

“En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe” (13)

Die Methodist Recorder vertel hoe Rodger Ri­ckett een aand ‘n sakkeroller op heter­daat betrap, terwyl hy sy beursie uit sy sak steel. Die dief het homself dadelik ver­ontskuldig deur vir Rickett te vertel hoe hy sukkel om werk te kry. Hy het tronkstraf uit­­gedien en nou wil nie­mand hom in diens neem nie. Hy en sy gesin sterf van honger. Rickett kyk die man stip in die oë. “Ek gaan my naam vir jou gee. My naam is nog skoon. Neem dit, gebruik dit en hou dit skoon.” Daarmee gee hy vir hom sy eie naam­kaartjie. Vyftien jaar later word Rickett na die ont­vangslokaal van `n firma geroep. ‘n Man, wat die­selfde naam as hy het, wil met hom praat. Rickett kyk na die man se naam­kaartjie en sien die man is regtig ook Rodger Rickett. Die man is netjies aangetrek, met ‘n aan­gename voorkoms. Die man groet hom hartlik en sê: “Ek het jou kom vertel, ek het vandag ‘n vennoot geword,  in die firma waar jy vyftien jaar gelede vir my werk gekry het. Ek het dit aan jou naam te danke. Ek het jou naam skoon gehou.”

Ons het ook ‘n nuwe naam gekry. Ons het Christus se naam gekry. Ons word Christene genoem. “In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem” (Hand.11:26). Die Naam van die Here Jesus Christus het vir ons ook baie deure oopgesluit. Dit het vir ons die deur hemel toe oopgesluit. In sy Naam kan ons God nader en kan kan ons bid. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh.14:13,14). Ons het ook die groot ver­ant­woordelikheid om hierdie Naam skoon en in eer te hou. In dáárdie tyd het mense geweet wat die naam Christen inhou. Toe Paulus hom voor Agrippa ver­de­dig het, het Agrippa uit­geroep: “Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ‘n Christen maak” (Hand.26:28). Hy het ge­weet wat dit vir hom gaan inhou om Christen te word. Ons wat Chris­tene is, kan die Naam en Per­soon van Christus verhoog of verneder. Hoe dra ék deur my gedrag by tot die eer of die vernedering van sy Naam?

“Here, vandag wil ek u Naam skoon hou en ook verheerlik.”