Die krag van Die Woord

Lees Hebreërs 4: 12 – 16
“Die woord van God is lewend en kragtig … skerper as enige swaard .. .dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees … (12).

Die vader van voormalige hoofregter Ruffin van Engeland, was ’n skatryk, losbandige man. Hy het drie van sy beste perde ingeskryf vir die groot perderesies van Richmond. Met sy weelderige perdekoets, pak hy die reis van honderd myl, met net die koetsier as geselskap, aan.

Onderweg raak hy uitermate verveeld. Hy sien in `n dorp ’n boekwinkel. Hy laat sy koets by die boekwinkel stilhou. Hy wil ’n boek koop om die tyd mee te verwyl. Al wat die plattelandse boekwinkel in voorraad het, is kinderboeke en Bybels. Hy sien nie vir die kinderboeke kans nie. `n Bybel het hy nog nooit besit of gelees nie. Hy besluit dus om vir hom ’n Bybel te koop.

Hy begin die Bybel lees, maar na ’n rukkie smyt hy dit met ’n vloekwoord op die koets se vloer neer. Vir `n ruk staar hy nukkerig oor die uitgestrekte veld en kronkelende pad uit. Die verveling raak vir hom net teveel. Hy tel die Bybel weer op en begin traag lees. Hierdie keer lees hy met toenemende belangstelling. Heel pad  lees hy.

Teen die aand kom hulle in Richmond by sy herberg aan. Die koetsier versorg die koets en perde, maar hy sit byna die hele nag en lees. Deur die lees van God se Woord begin die Heilige Gees kragtig in sy hart werk. Uit wat hy in die evangelies en sendbriewe lees, verstaan hy genoeg van die evangelie, om Christus as Saligmaker aan te neem. ’n Totale ommekeer vind in sy lewe plaas.
Oor hom skryf Walter Baxendale: “He withdrew his horses from the race, paid his forfeit, went home, killed his gamecocks for his servants’ supper and, set up his family altar…..”

Sonder menslike bemiddeling het die Woord sy hart oorwin. “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood” (Rom.1:16). ’n Traktaatjie wat in iemand se hande kom, soms net ’n teks, of ’n aanhaling van die Woord in ’n gesprek, het die krag om na die hart toe deur te dring, want die Heilige Gees is saam met die Woord in die hart aan die werk. Die Here gebruik mense as skakels in ’n lang ketting om iemand se hart te bereik. Die doelwit van die Heilige Gees is altyd om Jesus Christus as Here en Verlosser bekend te maak en te verheerlik. Christus se evangelie moet net deur iemand aan `n ander iemand bekend gemaak word. “Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My” (Joh.15:26,27).

“Here, vandag wil ek u reddende Woord by iemand uit te bring.”