Lees Hebreërs 9: 15 – 22
“Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie”(22)
Dr. George F. Pentecost het eenkeer Boston toe gegaan, om ’n reeks evangeliepreke in ’n kerk te lewer. Die komitee wat die dienste gereël het, het met hom beraadslaag oor die tema van sy prediking. Hy het hulle ingelig, hy het besluit om ’n baie fundamentele onderwerp, soos redding en verlossing deur die bloed van Christus, te behandel. Die komitee het hom gevra, om sy bewoording aan te pas by die smaak, van die ontwikkelde en ryk klas mense, vir wie hy sou preek. “Bloed is ’n weersinswekkende woord,” het hulle aangevoer. “Sommige van Boston se mense mag aanstoot neem. Praat liewer van die dood van Christus.” Dr. Pentecost het geantwoord, skryf Charles Reitzel in sy boek Pauls’ Conversion: “Christus kon op baie maniere, sonder bloedvergieting, gesterf het, maar die Bybel leer uitdruklik, vergifnis en reiniging van sonde, vind slegs deur bloedvergieting plaas. Ek bly by hierdie onderwerp. Dit is die taal van die Bybel.”
Die Ou Testament en Nuwe Testament se getuienis is duidelik en klinkklaar, bloed is die versoeningsmiddel. “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is” (1 Pet.1:19). Jesus het dit self beklemtoon: “Toe neem Hy ’n beker…gee dit vir hulle en sê: ‘Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes’” (Mat.26:27,28). En by die troon van God in die hemel sien Johannes ’n menigte wat niemand kon tel nie: “Hulle was uit elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad…Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (Openb.7:9,14). Maar hoekom dan juis bloed? Bloed ís ’n weersinswekkende woord. Onthou, die bloed van Christus is die versoenings- en reinigingsmiddel van weersinswekkende sondes. Sonde gaan met bloedvergieting gepaard. Geen mindere middel as bloed, en juis die bloed van die sondelose Seun van God, sou hierdie wêreld se wrede en weersinswekkende sondes kon versoen nie.
“Here, vandag bring ek my sonde onder u bloed.”