Lees Handelinge 24: 24 -27
“Feliks (wou) meer hoor oor die geloof in Christus Jesus. Paulus het met hom gepraat oor ’n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Dit het Feliks bang laat word, en hy het gesê: ‘Dit is nou genoeg…as ek tyd het sal ek jou weer laat roep’” (25).
Tydens ’n ryk Sjinees se besoek aan Engeland, is ’n pragtige mikroskoop aan hom gedemonstreer, vertel Roy Zuck. Dit het die Sjinees se belangstelling dadelik geprikkel en hy het vir hom een gekoop en saamgeneem Sjina toe. Dit het hom groot plesier verskaf om deur die mikroskoop na verskillende voorwerpe te kyk. Eendag bestudeer hy ’n ryskorrel, wat hy uit sy middagete se bord geneem het, onder die mikroskoop. Geskok sien hy onder die mikroskoop se lens, die ryskorrel is vol lewende goedjies. Dit was deel van sy godsdienstige geloof, geen lewende organismes word geëet nie. Wat moet hy nou doen? Hy is nie net baie lief vir rys nie, maar dit is deel van sy daaglikse stapelvoedsel. Hy sien net een uitweg: vernietig die ding wat die afstootlike feit aan hom uitgewys het. Zuck skryf: “Similarly, many people hate the Word of God because it reveals their true condition.”
Die onbekeerlike mens wil nie hê die Woord van God moet die sondige toestand van sy hart en die verkeerdheid van sy lewensgedrag aan hom uitwys nie. Teenoor mense en homself kan hy sy verkeerdheid goedpraat. Hy wil nie God se lig op sy lewe hê nie. Hy bly weg van die Bybel af, of soos die ateïste, probeer hy die egtheid van die Bybel afmaak en teëpraat. Die mens weer, wat na bekering en heiligmaking in sy lewe verlang, bestudeer gretig die Bybel om meer oor sy eie lewe en meer oor God se reddingskrag uit te vind. Hy wil skoon wees. Hy wil vir God aanvaarbaar wees.
“Deurgrond my, o God, deurgrond my hart…kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad” (Ps.139:23).