Lees Hebreërs 10: 19 – 25
“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, … God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (23).
Die boek, A Father’s Love, vertel die storie van die vernietigende aardbewing wat op 7 Desember 1988 in die noordwestelike deel van Armenië plaasgevind het en waarin, na beraming, 25 000 mense omgekom het. Die eintlike verhaal gaan oor ’n pa, wat van sy seuntjie se geboorte af, hom beloof het: “Dit maak nie saak wat gebeur nie. Ek sal altyd daar wees as jy my nodig kry.”
Pas ná die verskriklike aardbewing jaag die pa na sy seun se skool toe. Die gebou het platgeval. Nêrens ’n teken van lewe nie. Gedagtig aan sy belofte aan sy seuntjie, weifel die pa nie ‘n oomblik nie. Hy begin dadelik in die puin grawe. Terwyl ander toekyk en hardop, hulpeloos huil oor hulle kinders wat ook in die puin toegeval lê, hou die pa aan met grawe. Ander ouers het moed opgegee, maar hierdie pa hou aan grawe. Een na die ander klippe verwyder hy. Een na die ander steen word weggeneem. Hy moet weet of sy seun lewe of dood is. Ure tik verby – ses, twaalf, agtien ure – steeds grawe die pa. Agt-en-dertig uur na die aardbewing, vertel die boek, hoor hy ’n sagte stem. “Armand!” roep hy. ’n Kinderstem antwoord: “Pa! Dis ek. Ek het vir die ander kinders gesê Pa sal my nie alleen los nie. Pa sal my kom uithaal en vir hulle ook.” Kort daarna help die pa sy seun en ’n twaalftal verskrikte, honger, dorstige kinders uit die bouval uit. Hulle behoud was ’n holte wat veroorsaak is, deurdat twee mure teen mekaar geval het. Die dorpsmense, en veral die ouers van die kinders wat behoue uit die puin gehaal is, het Armand se pa vereer vir sy dapper daad. Sy verduideliking was: “Ek het my seun beloof: wat ook al met hom gebeur, ek sal daar wees om te help.”
In die woord van God is baie beloftes. Net in die Nuwe Testament, ’n goeie 750, oor verskillende sake en behoeftes. Ons kan God se beloftes vertrou. En ons kan weet, ons Vader, wat ook die Almagtige God is, handel uit liefde vir ons. Hy kán sy beloftes aan ons nakom.
“Here, vandag vertrou ek in U.”