Vrede

Lees Johannes 14: 23 – 31
“Vrede laat Ek julle na; my vrede gee Ek julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (27)

In ’n kompetisie vir kunsskilders was die uitaging: Die Beste Voorstelling Van VREDE, skryf eerw. David A. Sargent, in sy internetprogram, ’n storie wat wyle Neil Verwey, sendeling in Japan, vir my gestuur het.

Dit het groot belangstelling ontlok en van oral af het skilderye begin aankom. Op die dag van die vertoning van die skilderye, word elke doek met ’n vredetoneel, onder geesdriftige applous van ’n skare toeskouers, vertoon. Eindelik bly nog net twee skilderye oor. Die een se bedekking word verwyder. ’n Bewonderende stilte daal oor die toeskouers. In ’n spieëlgladde meer, word die kleurvolle bome op die meeroewer en ’n troppie skape, wat onversteurd op die groen gras tussen die bome wei, onder die ligrooi skynsel van die ondergaande son, weerkaats. Dit moet die wenner wees, voel almal. Die laaste skildery word oopgemaak. Die skare gaap van verbasing. ’n Bruisende waterval wat oor rotskranse tuimel, onder lae, donker, dreigende onderweerswolke, word gesien. Kan dít vrede wees? ’n Taai, dun boompie, met die sterk wortels in die rotsoewer ingegroei, staan op die voorgrond. Asof dit die krag van die waterval en wolke uitdaag, strek ’n tak uit na die waterval toe. In die holte van die tak se elmboog het ’n voëltjie nesgemaak. Sy sit vredig, met toe oë op die nes. Met haar vlerkies stil gesprei oor haar eiertjies, vertoon sy diepe vrede teen die woeling en dreiging op die agtergrond. Dit was die skildery wat gewen het!

Jesus het vir sy dissipels gesê: “Die vrede wat Ek julle gee is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh.14:27). Hoe is die vrede wat die wêreld gee? Op sy beste, die afwesigheid van moeilikheid! In ons wêreld is so ’n moeilikheidlose omstandigheid skaars en kort van duur. Die vrede wat Jesus gee, is nie gegrond op omstandighede nie, maar op ’n verhouding met Homself. “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou goeie moed: Ek het die wêreld oorwin” (Joh.16:33). Hierdie vrede van Jesus reik uit na God se liefde en almag in ons tye van beproewing. “Teen middernag – in die tronk van Filippi – was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing … skielik kom daar ’n groot aardbewing … al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan…” (Hand.16:25). In ons verhouding met die Here Jesus Christus is ons van sy nabyheid bewus en ons weet ons God het krag om ons te help. Daarom het ons in die midde van beproewing, vrede in die hart.

“Here, vandag rus ek in U.