Die heling van verbittering

Lees Matteus 11: 25 – 30
”Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (28)

Gedurende die eerste helfte van 1974 was Debra Fausagh ’n verwarde en verbitterde jong vrou, skryf sy in Abundant Life. Sy en haar man was in die proses van ’n egskeiding. Hulle het een kindjie gehad en die volgende een in September verwag. Die lewe het vir haar geen vreugde ingehou nie! Na die geboorte van haar tweede kindjie, ’n dogtertjie, het haar bekommernisse en laste verdubbel. Die baba se longetjies was vol vog en haar hartjie het vyf keer vinniger as normaal geklop. Sy skryf: “When I realized just how serious it was, I become very angry and even more bitter. I blamed God and everyone else. I did not even pray for my baby. She was barely alive when I left the hospital. For the next 6 days I was either at the hospital or calling every hour. The answer always was, ’No change’ or ’Worse’”. Debra se ma het almal van wie sy geweet het gebel en gevra hulle moet vir Debra en haar kindjie bid. Debra self het geweier om te bid. Wat gee God vir haar of haar probleme om, het sy gevoel! Die ma het ’n gebedsgroep, The Prayer Tower at ORU, gebel om vir haar dogter te bid. Toe haar ma haar daarvan vertel, kon Debra dit nie meer weerstaan nie. Sy het na haar kamer toe gegaan, op haar knieë geval en tot God geroep: eers vir haar persoonlike vergifnis en toe vir die genesing van haar dogtertjie. Die volgende oggend bel die dokter haar van die hospitaal af. Sy onthou sy presiese woorde: “Debbie, it’s a miracle! Your baby is competely well! I can’t believe it!” Die een oomblik was sy nog dodelik siek, gaan hy voort, en die volgende oomblik was sy gesond. Uitgeput, ja, maar gesond.”I was astonished at God’s love for my baby and for me!” skryf Debra. Na die opwinding om die baba tuis te hê en die wonder wat gebeur het – doen God toe nog ’n wonderwerk: “I told God if He could forgive my bitterness toward Him and heal my baby, then surely He could forgive my husband and me and heal our marriage.” Die volgende dag daag haar man by haar op. So by mekaar by die kindjie, met die ander enetjie wat op die grond sit en speel, besef hulle twee, hulle het mekaar nog lief en hulle het mekaar nodig.. Hulle het weer bymekaar gekom en biddende werk gemaak van die probleme wat hulle in die eerste plek van mekaar af weggedryf het. Sy sluit af: “Today our baby is alive and well and so is our love – thanks to our prayer partners. And most of all to God, He listened to the prayers.”

Die weg vir innerlike heling en genesing vir verhoudingsbreuke en gelykmaak van ’n mens se lewensomstandighede, is die weg wat Jesus aandui: “Kom na My toe…en julle sal rus kry vir julle gemoed.” Dit is die gedurige lied van Dawid in die Psalms: ”Maar dit is in sulke tye, as ek bang word dat ek op U vertrou…”(Ps.56:4 – Lew.Byb.). “Ek roep omdat ek ver van U af is en heeltemal moedeloos geword het. Lei my tog na u teenwoordigheid” (Ps.61:3). In die Here Jesus het hierdie opheffing van ’n mens se gemoed deur God, naby aan ons gekom. ”Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste Seun, van die Vader het, vol genade en waarheid” (Joh.1:14).

“Here, vandag doen ek dit, ek kom na U toe.”