Die kierie van gebed

Lees Eksodus 17: 1 – 7
“Toe sê die Here vir Moses: ‘Vat die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het. Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink’” (5).

Evangelis B. Webb vertel hy is een nag na die sterfbed van ’n ou grysaard ontbied, lees ek in Die Spoorwegbode van Julie 1967. Die ou man vertel hom, hy was ’n soldaat uit die dae van die Amerikaanse Burgeroorlog van 1862. Hy is krygsgevange geneem. Nou, in eie woorde, sy verhaal:
“Die kos en water het opgeraak. Ons was in gevaar om van dors te sterf. Toe dit lyk of die einde onvermydelik was, het vyf van ons begin bid vir reën. Dag na dag het ons gebid en die lug dopgehou vir tekens van reën. Later was ons tonge opgeswel en ons lippe gebars en omgekrul. Ons vyf het aangehou bid. Omtrent twee-uur een middag hoor ons die weer dreun. Vol blydskap spring ons van ons knieë af op, en – waarlik: in die Noordweste steek ’n donderwolk op. Staande loof ons God en wag vir die reën om te val. Meteens skiet ’n geweldige weerligstraal uit die wolk uit en kloof ’n rots net bokant die kamp. ’n Stroom water begin dadelik uitvloei en kom teen die berg af. Nie lank nie of al die dorstige manne drink van die water uit die rots. Die stroom het bly vloei totdat ons daar weg is. Na ek verneem, vloei die stroom steeds.”

By die eerste geleentheid het eerw. Webb die plek besoek. Die stroom het nog steeds uit die rots teen die berg af gevloei. Hy het by die bron neergekniel en ’n offer van danksegging gebring, aan die “die God wat voorsien” – die God van Abraham, Isak en Jakob en almal van wie ons in die Bybel lees, wat in hul nood tot God geroep het.

Moses se kierie is ’n beeld van gebed. Die krag was nie in die kierie nie, maar in God wat vir hom gesê het: “Ek sal daar voor jou op die rots by Horeb staan” (Eks.17:6). Die Here Jesus het hierdie kierie van gebed vir ons in die hand gegee. Omdat Hy gekom het en vir ons die weg na God toe geopen het, mag ons in ons nood, in sy Naam, bid en God sal ons uitred! “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Joh.14:13,14). Glo ons dit?

Wanneer ons persoonlike behoeftes het, of die gesamentlike behoefte van almal om ons, het dit groot krag om saam met ander te bid. Uit ons eie geskiedenis ken ons die groot krag van gebed as ons onthou, hoe God op Geloftedag ons land se voorgangers by Bloedrivier, gehelp en gered het.

“Here, vandag bid ek in Jesus se Naam vir my saak.”