Heeltemal nuut

Lees 2 Korintiërs 5: 16 – 19
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (17).

‘n Man het sy geweer vir herstelwerk na die wapensmid toe geneem. Die wapensmid bekyk die geweer en skud sy kop. “Die geweer is baie geslyt. Watse herstelwerk het jy in gedagte?” vra hy. Die man antwoord: “Die kolf en houthandgreep moet jy nuut insit. Sit ‘n nuwe slot ook in. Die loop is ook al geslyt, so, ‘n nuwe loop is ook nodig.” Die wapensmid lag en sê: “Jy kan maar netsowel ‘n nuwe geweer koop.” “Ek het nooit so daaraan gedink nie,” antwoord die man. Die gesprek is in Engels gevoer en die bekende woorde, kan verder eintlik nie goed vertaal word nie, want die man sê met `n lag vir die wapensmid, “Yes, it must get a new lock, stock and barrel. That’s about equal to a new gun, and that’s what I’ll have!” Die skrywer sluit sy vertelling af met: “In the Bible we read of ‘a new man’, ‘a new creature’, ‘a new heart’, ’born anew,’ all of which are terms describing the transforming power of Christ at work. It is not patching up an old thing as to make it look new. It really is ‘newness’ of life, because God is in it.”

Met ons ou natuur en geaardheid wat ons deur natuurlike geboorte van Adam af gekry het, kan ons God nie dien nie. Jesus het vir Nikodemus gesê: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3). Uit die manier waarop Jesus dit gesê het, het Nikodemus dit letterlik só verstaan. Hy vra: “Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” (v.4). Die nuwe mens, of wedergeboorte, soos ons dit ken, is ‘n skeppingsdaad van God, deur die werk van die Heilige Gees in ‘n mens se hart, wanneer hy in Christus Jesus as sy Saligmaker vertrou. Die mens se nuwe gees, gevoed deur die woord van God, gevoed en geoefen deur omgang met God deur gebed, versterk deur sy lewenskeuses in tye van versoeking, word gedurig sterker en sterker, totdat die geaardheid en gelykvormigheid aan Jesus meer en meer na vore kom. “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God” (Kol.3:9,10). “Hy het ons verlos…deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee” (Tit.3:4-6). “Julle is immers weergebore…uit die onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God… Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei…” (1 Pet.1:23 en 2:2).

“Here, vandag soek ek die vernuwing van my hart.”